Streeknuus: Helpende Hand maak geskiedenis in die Wes-Kaap

Hannes Noëth, Uitvoerende Direkteur: Solidariteit Helpende Hand, open die kongres.

Nagenoeg 150 rolspelers van al die uithoeke in die Wes-Kaap het onlangs bymekaargekom om ’n daadwerklike poging aan te wend om armoede in die provinsie te verlig, te verbreek en te voorkom.

Altesaam nege takke van Solidariteit Helpende Hand en verteenwoordigers van sewe van Helpende Hand se Ons Winkel-skenkingswinkels regoor die provinsie het in Maart na Stellenbosch opgeruk vir Helpende Hand se eerste streekskongres wat by Grappa Shed gehou is.

Die tema van die kongres was #INKRAG en verskeie sprekers het kongresgangers met die nodige kennis toegerus om van Helpende Hand se vele projekte in hul onderskeie dorpe voort te sit of uit te brei.

Alisha de Lange, Helpende Hand se streeksorganiseerder van die Wes-Kaap, het die kongres gereël en beskryf dit as ’n reusesukses.

“Van Oudtshoorn tot Vredendal, regdeur en alle dorpe tussenin, was verteenwoordig. Hierdie was die eerste kongres wat Helpende Hand in die Wes-Kaap aangebied het om die wyer publiek in te lig oor Helpende Hand en ook om ons takke en vrywilligers toe te rus oor verskeie aspekte rondom armoede voorkoming, verligting en verbreking,” het Alisha vandeesweek gesê.

“My hoogtepunte was die hoeveelheid mense wat bygewoon het, maar ook die positiewe energie wat hierdie kongres losgemaak het. Helpende Hand in die Wes-Kaap het in ’n volgende rat oorgeskakel en ons is gereed vir ’n golf van projekte wat ons gaan aanpak by ons kinders, gestremdes en bejaardes om hulle nood aan te spreek.”

Almal wat die kongres bygewoon het, het ook ’n gratis kaartjie vir die volgepakte Afrikaans is Groot-konsert op 16 Maart by Grand West Casino ontvang, waar die sanger en Kapenaar, Demi Lee Moore van Die Kontrak-faam, ’n spesiale woord van dank aan al Helpende Hand se personeel en vrywilligers vanaf die verhoog gelewer het, vir die goeie werk wat hulle doen.

“Ons het die oggend ná die konsert ’n uitreikaksie by die Ons Plek-gemeenskapsentrum in die Strand gehou om ’n praktiese uitvoering te gee aan presies dit waarvoor Helpende Hand staan.  Die dankbaarheid van die behoeftige mense vir wie ons ’n ontbyt en geestelike boodskap gegee het, het ons almal se harte aangeraak,” het Alisha bygevoeg.

“Wat my persoonlik aangeraak het was tydens Sondagoggend se uitreik toe daar ook ’n groep motorfietsryers was wat die kinders ’n geleentheid gegun het om op ’n motorfietse te ry. Saam met my het ’n graad 1-seuntjie gesit en eet. Ek het vir hom gevra of hy wil gaan motorfiets ry toe hy klaar geëet het. Hy het ’n berekening gedoen en gevra of hy nie eerder nog bietjie kos kan kry in plaas van om motorfiets te gaan ry. Dit het my geweldig aangeraak dat hy eerder nog kos kies as om op die motorfiets te gaan ry. Natuurlik het sy gesiggie gestraal toe hy hoor hy kon albei kies.”

Volgens Alisha kort Helpende Hand nog meer hande en vrywilligers regoor die provinsie om Afrikaner-armoede daadwerklik hok te slaan.

“Behalwe Helpende Hand se bestaande takke in dorpe regoor die Wes-Kaap, wil ons ook graag verteenwoordigers hê in dorpe waar daar nog nie ’n Helpende Hand-tak is nie.  As jy dus wil seker maak dat Helpende Hand se projekte in jou omgewing van stapel gestuur word, word ’n  dorpsverteenwoordiger,” het sy afgesluit.

Vir meer inligting of om ’n verteenwoordiger, vrywilliger of ondersteuner te word, e-pos by [email protected]