Streeknuus: Motorfietsryers maak harte oop vir liefdadigheid

Mariëtte van de Werken ontvang ’n skenking van Bettie Kloppers, wat die Fomo’s-motorfietsryers verteenwoordig.

Motorfietsryers verbonde aan die Fomo’s-groep het hul harte en beursies vir liefdadigheid oopgemaak en byna R50 000 aan Solidariteit Helpende Hand se Gauteng-Suid-streek geskenk.

Mariëtte van de Werken, die takvoorsitter van die Gauteng-Suid-streek, het onlangs dié ruim skenking in ontvangs geneem en gesê die geld gaan aangewend word om hongersnood onder hulpbehoewende kleuters in die gemeenskap te bekamp.

“Bettie Kloppers, een van die motorfietsryers wat verbonde is aan dié private motorfietsgroep, was verlede jaar saam met haar geliefdes by een van die immergewilde Afrikaans Is Groot-konserte wat in Pretoria gehou is en het daar van Helpende Hand se #StopHonger-veldtog te hore gekom. Met #StopHonger poog Helpende Hand om vir 8 000 behoeftige kleuters landwyd daagliks ’n gesonde bord kos te gee. Sterre soos Touch of Class, Tarryn Lamb, Monique Steyn, Corlea, Dewald Wasserfall, Jay, Steve Hofmeyer, Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Ivan Roux, Dirk van der Westhuizen en Riana Nel het reeds hul stemme en ondersteuning by die veldtog gevoeg,” het Mariëtte gesê.

“Bewusmakingsvideo’s van dié veldtog het Bettie en ander motorfietsryers van die groep so geraak dat hulle graag ’n bydrae daartoe wou maak. Fomo’s het hande met die gemeenskap gevat en ’n vertoning van Touch of Class by Soli Deo Gloria Boutique Hotel In Honeydew gereël waarna die opbrengste van die aand aan Helpende Hand geskenk is. Altesaam R48 700 asook teddiebere en klere is aan Helpende Hand oorhandig,” het Mariëtte gesê.

Mariëtte het die motorfietsryers van Fomo’s vir hul onbaatsugtige daad en ondersteuning bedank.

“Nie net gaan die geld ’n hele paar kleuters se magies vol maak nie, maar die klere en teddiebere gaan hul hartjies ook bly maak. Dit is net weereens bewys dat die stigma rondom motorfietsryers heeltyd verkeerd bewys word,” het Mariëtte bygevoeg.

Bettie het op haar beurt gesê dit is vir Fomo’s ’n groot voorreg om ook ’n bietjie in die emmer te kan sit om kinders te help.

“Baie dankie aan al Fomo’s se ondersteuners wat ’n bydrae gemaak en die geleentheid ’n groot sukses gemaak het. Ons wil ook spesiaal vir Corne Harmse van Soli Deo Gloria bedank wat hul hotel se deure oopgemaak het sodat ons die vertoning daar kon hou en Maryna Lutt van Ben Morgenrood Motors wat Touch of Class se vertoning moontlik gemaak het,” het Bettie gesê.

Mense wat #StopHonger wil ondersteun, SMS die woord “STOP” na 38969 (SMS kos R10) en dra by tot ʼn kosblikkie vir ʼn behoeftige kleuter. Vir meer inligting besoek www.stophonger.co.za.