Suid-Afrika vinnig op pad om nommer een in mensehandel te word

Tans is Suid-Afrika 27ste op die globale slawe-indeks met ʼn geraamde 248 700 slagoffers. Dit het astronomies gestyg vanaf slegs 106 000 slagoffers in 2014 toe Suid-Afrika 126ste op die wêreldlys was. Verder is Suid-Afrika wyd bekend as is ’n bron, transito- en eindbestemming-land.

Tydens die 16 dae van aktivisme vanaf 25 November tot 10 Desember 2016 is die fokus op  die mishandeling van vroue en kinders in die land. Weinig ander kwessies het meer hierop betrekking as mensehandel. Ongelukkig is mensehandel een van die vinnigste groeiende georganiseerde misdade ter wêreld.

Die meeste slagoffers in Suid-Afrika is ons land se eie burgers en hulle word blootgestel aan misbruike soos prostitusie, dwangarbeid, pornografie, stroping van organe, kinderhuwelike en ook onwettige aanneming van kinders.

Sedert 2014 tot vanjaar het die aantal mensehandelslagoffers in Suid-Afrika meer as verdubbel. Solidariteit Helpende Hand se Pêrels Uit As-tak het besluit om ’n inligtingsessie te hou om meer lig op die onderwerp te werp. Die tak bied ook die land se enigste studiefonds wat uitsluitlik vir gerehabiliteerde slagoffers van mensehandel is om hul lewens weer agtermekaar te kry.

Volgens Elize Bezuidenhout, ’n funksionele terapeut en voorsitter van die Pêrels Uit As-tak, is die studiefonds ’n kardinale deel van hul betrokkenheid by mensehandel. “Ons wil hierdie mans en vroue ondersteun om weer met hul lewens aan te gaan. Min organisasies sal hierdie slagoffers ’n tweede kans gee en ons wil dit verander. Die studiefonds word befonds deur skenkings sowel as die inkomste wat uit die kaartjieverkope van inligtingsessies soos hierdie gegenereer word,” sê Bezuidenhout.

Daar is egter ’n groot verskeidenheid maniere waarop die publiek betrokke kan raak en saamwerk om mensehandel teen te werk. Die inligtingsessie wat deur Bezuidenhout aangebied is, het nuttige wenke gegee oor hoe om ’n daadwerklike verskil te maak en ook hoe om jou geliefdes veilig te hou. Daar was ook ’n vertoning van Unthinkable, ’n fliek wat fokus op een van die werwingsmetodes wat die handelaars gebruik om slagoffers te vang.

Om meer uit te vind van mensehandel of om meer oor die studiefonds te wete te kom, kontak gerus vir Elize Bezuidenhout op 082 772 1821 of stuur ’n e-pos na [email protected].