Swart tydperk vir Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand het nog ’n staatmaker verloor. Die organisasie is die afgelope maand geruk deur die tragiese ongeluk van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur, en sy gesin waarin twee van sy kinders oorlede is en sy vrou Lise ernstig beseer is, asook die dood van Monica Annandale van die Thabazimbi-tak.

Attie Barnard, Helpende Hand se takvoorsitter van die Wellington-tak in die Wes-Kaap, is ook nou hierdie week oorlede.

Brink, het sy medelye met Barnard se gesin betoon en sy hartseer oor Barnard se dood so uitgespreek: “Attie was een van die takvoorsitters wat ’n ware vriend geword het vir baie van Helpende Hand se personeel en vrywilligers. Ons harte gaan ook uit na Marietjie, Attie se vrou en hulle twee dogters Atmari en Eloise. Ons bid vir hul vertroosting in hierdie moeilike tyd.”

Volgens Wilinda Ford, Helpende Hand se streeksorganiseerder in die Wes-Kaap, was Barnard 53 jaar oud en reeds sedert 2010 by Helpende Hand betrokke. “Attie is ook die afgelope drie jaar ons Wes-Kaap se streekraadvoorsitter. Ons sal Attie onthou as ‘n omgee-mens, iemand met ‘n goue hart en ‘n oop hand.  Hy sou nie  twee keer dink om iemand in nood te help nie en het altyd tyd gemaak vir ‘n grappie!”

“Helpende Hand is die afgelope maand deur diep waters, met ’n paar tragiese gebeure, die mees onlangse is die tragiese afsterwe van Attie Barnard,” het Ernst Vorster, Helpende Hand se hoof van kommunikasie, gesê.