Taal en kultuur speel ’n groot rol in ons studentelewe!

Mia Wesseloo

Wanneer ek terugdink aan my ma se stories van haar gelukkige studentedae kry ek sommer namens haar heimwee. Die lesings was ordelik, in Afrikaans aangebied en koshuise het geen heinings gehad nie. Daar was sterk klem geplaas op die vestiging van tradisies om die Afrikanerkultuur te bevorder. Soos my ma sê: “Studentelewe op sy heel beste, geen toegangsbeheer en geen bekommernis oor veiligheid nie, vry en sorgeloos – behalwe natuurlik vir môre se toets.”

Toe ek en my sussie in die vroeë 2000’s by my ma se alma mater gaan studeer het, was dit egter moeilik om haar stories te glo. Engels was die hooftaal, en ontevrede betogende studente het tot onordelikheid, intimidasie en ontwrigting gelei. Die veiligheid op kampus was kommerwekkend en studente moes soms verskrik na veiligheid skarrel. Ons was dikwels onseker of môre se eksamen wel sou plaasvind, omdat betogers al hoe meer by lesinglokale sou instorm, studente intimideer en vraestelle opskeur. Opsetlike beskadiging van geboue en eiendom was aan die orde van die dag.

Tradisie was nog altyd vir Afrikaanssprekendes belangrik. Taal en kultuur speel ’n groot rol in ons lewens wanneer dit kom by die vorming van ’n eie identiteit, ’n gevoel van behoort en die aanleer van sosiale vaardighede. Dit is hierdie dinge wat my deesdae opgewonde maak. By Akademia en Sol-Tech se kampusse raak ek in my hart vreeslik opgewonde. Dit laat my aan die universiteite van ouds dink en die oorspronklike doel van ’n universiteit kom weer na vore. Waardes word gekoester en kultuur en tradisies bevorder. Met my besoeke aan die Sol-Tech-kampus word ek gereeld met: “Goeie môre, Tannie”, welkom geheet terwyl die deur vir my, deur ’n vriendelike jong man, oopgehou word. Afrikaans word oral in die gange gehoor en tradisies gee aan hierdie studente ’n heerlike ervaring van student-wees.

Dit is as gevolg van dié redes dat die #AlumniVirAfrikaans-veldtog gedurende 2021 geloods is. Die doel van die veldtog is om aan nuwe tersiêre opleidingsinstellings te help bou. Instansies waar studente vry en sonder vrees in Afrikaans kan studeer. Ons bou vuur en vlam aan Sol-Tech en Akademia, sodat die volgende generasie hul moedertaaltradisies sal ken, kultuur in hul are sal vloei, en hulle sorgeloos in Afrikaans hul studiedrome sal kan bewaarheid.