Talle Kerswense reeds deur Helpende Hand bewaarheid

10801735_749897315089131_5752969112953483383_nHelpende Hand het verlede week ʼn sosialemediaveldtog geloods om met R30 000 Suid-Afrikaners se Kerswense waar te maak. Dit kom nadat Helpende Hand onlangs die oogmerk van 30 000 ondersteuners bereik het en hierdie mylpaal gevier word deur op hierdie manier aan gemeenskappe terug te gee.

Die publiek word aangemoedig om persone of instansies te nomineer wie se Kerswens deur Helpende Hand bewaarheid kan word.

Die eerste ontvanger van ʼn Kerswens was twee bejaardes van Pretoria, wat finansiële en emosionele bystand aan ʼn meisie bied wat onverwags swanger geword het. As gevolg hiervan is daar geen geld vir luukshede nie. Die die paartjie is genomineer om ʼn spesiale aand uit te ontvang. Helpende Hand sal hulle bederf met ʼn onvergeetlike aand wat ʼn fliekvertoning en aandete by ʼn restaurant insluit.

Nog ʼn ontvanger van ʼn Kerswens was Huis Hoop in Bloemfontein, ‘n versorgingsoord vir verswaktes en gestremdes met lae inkomste. Die tuiste het tans tien inwoners. Dit kry geen ondersteuning van die staat nie en is ten volle afhanklik van privaat donateurs uit die gemeenskap. Hulle sal R1 000 se vleis ontvang wat die inwoners oor die Kerstydperk kan geniet.

Twee sussies van Hartebeespoort, onderskeidelik sewe en nege jaar oud, sal volgende jaar hul skooljaar met die nodige skryfbehoeftes kan begin nadat hul Kerswens vir skoolpakette waar geword het. Die dogtertjies se ouers is werkloos en is nie finansieel in staat om die skoolpakkette aan te koop nie.

ʼn Spesiale onderrig-klas van ʼn skool in die Vrystaat kan ook breed glimlag nadat hul Kerswens gekies is om bewaarheid te word. Hierdie klas met 12 leerders ontvang geen subsidie van die staat nie en die skool is self verantwoordelik vir die insameling van fondse vir die klas. Aangesien die meeste van die kinders sukkel met konsentrasie en selfs uitdagings soos epilepsie moet hanteer, kan hulle nie soos ander kinders in hoofstroom-klasse wees en dieselfde skoolvakke doen nie. Hul Kerswens is om ʼn museum in Bloemfontein te besoek en ʼn lekker dag uit te geniet.

Daar sal oor die volgende paar weke nog 20 Kerswense gekies word wat bewaarheid sal word en die publiek kan nou hul nominasies instuur! Nominasies kan deur Helpende Hand se Facebook-blad gedoen word deur op die 30 Kerswense-skakel te klik, of deur die Helpende Hand webtuiste.

Vir meer inligting rondom die veldtog kan ʼn e-pos na [email protected] gestuur word.