Tien jaar van onbaatsugtige diens

CR3E3107 (2)Mariana Kriel is vanjaar tien jaar lank by die Solidariteit Beweging en is steeds so geesdriftig as op haar eerste dag in diens van die Beweging.

Kriel het by Solidariteit se media-afdeling begin werk voordat sy oorgeplaas is na Helpende Hand om dié organisasie te ondersteun. Deesdae is sy die streeksorganiseerder van die Gauteng-Noord-streek. Onder haar bestuur is daar reeds 14 takke gevestig wat die gemeenskappe in Pretoria en Centurion ondersteun. Sy en haar man het twee tienerkinders, ’n 17-jarige dogter en ’n 14-jarige seun, en hulle woon in Akasia, Pretoria-Noord.

“Vir my is die beste ding omtrent Helpende Hand om te sien hoe die organisasie groei. Ons is werklik besig om ’n verskil te maak in mense se lewens. Ons is ook nou op die punt dat ons volhoubare projekte het wat net al hoe sterker word,” sê Kriel.

Helpende Hand het tans 140 takke landwyd en die getal groei maandeliks. Bykans 1 500 vrywilligers het dit vanjaar vir die takke moontlik gemaak om 798 projekte ter waarde van R3,2 miljoen uit te voer.

“Helpende Hand se streekorganiseerders is van onskatbare waarde vir ons,” sê Riaan du Plooy, Helpende Hand se adjunk uitvoerende hoof van Nasionale Strukture. “Hulle is ons hande en voete in die gemeenskap en sonder hul opoffering, tyd en onbaatsugtige diens sal Helpende Hand nooit sy doelwitte om gemeenskappe op te hef, verwesenlik nie.”