Die beste wiskunde-apps vir tieners

Daar is meer as 20 miljoen aktiewe slimfone in Suid-Afrika en navorsing wat in 2013 gedoen is, het bevind dat nagenoeg 90% van slimfooneienaars in Suid-Afrika apps aflaai, maar om jou selfoon te gebruik om jou wiskunde punte te verbeter is nog ’n volksvreemde gedagte. Nietemin het Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) die volgende wiskunde-apps gekry wat die grootste moontlikheid het om jou slimmer te maak.

GeoGebra
Die bekendste app (wat ook deur die V.A.W. in hulle opleiding gebruik word) is GeoGebra. GeoGebra is ’n gratis, dinamiese program wat meetkunde, algebra, sigblaaie en statistiek maklik maak vir die gebruiker.

Vinnige feite:

  • Alle grafieke, tabelle en algebra is gekonnekteer en dinamies
  • Gebruikersvriendelike koppelvlak
  • Ouderdomme 12 – 22+ jaar
  • Gratis
  • Windows, Mac OS X, Linux, Android, Windows OS

FreeGeo Mathematics
Hierdie app skep ingewikkelde meetkundige konstruksies en dit kan verander word deur bloot aan die skerm te raak. Hierdie interaktiewe program laat leerders toe om raaklyne en sirkels van krommings en/of ’n kombinasie hiervan te skep.

Vinnige feite:

  • Skep jou eie meetkundige konstruksies op jou foon
  • Ouderdomme 12 – 18 jaar
  • Gratis
  • Android

Mathspace

Mathspace is soos geen ander aanlyn leerprogram nie. Dit is ontwikkel deur onderwysers en programmeerders om alles te bied wat onderwysers nodig het om te onderrig, en alles te bied wat leerders nodig het om te leer. Dit bevat oefeninge en interaktiewe simulasies wat leerders in staat stel om wiskundeprobleme end-uit op te los met stap-vir-stap verduidelikings.

Vinnige feite:

  • Ouderdomme 12 – 18 jaar
  • Gratis
  • Android, iPad en rekenaargedrewe (Benodig iOS5 of hoër)

DragonBox+

DragonBox+ maak dit moontlik vir leerders om te leer terwyl hulle speel. Leerders leer algebraïse vergelykings teen hulle eie tempo met hierdie app. Die app is in skole in Frankryk en Norweë getoets en leerders het ’n duidelike verbetering in hulle begrip van basiese wiskunde getoon. Meer belangrik is dat daar ’n positiewe verandering in die leerders se gesindheid teenoor wiskunde gekom het.

Vinnige feite:

  • Speletjie wat wiskunde vaardighede aanwakker
  • Ouderdomme 12 – 18 jaar
  • $5.99 (ongeveer R100)
  • Android, iPad, iPhone, Mac

Gizmos

ExploreLearning Gizmos is die wêreld se grootste versameling onderwys simulasies vir graad 3 – 12. Leerders kan dit gebruik om verskeie “wat-as”-eksperimente te doen om sekere onderwerpe beter te verstaan.

Vinnige feite:

  • Verduidelik Wiskunde, Wetenskap en Fisika
  • Ouderdomme 6 – 18 jaar
  • Gratis
  • iPad

WileD Math

WileD Math behandel ’n verskeidenheid onderwerpe soos algebra, meetkunde, Pythagoras, grafieke, vierkantswortels, persentasies, ongelykhede en vele meer. Leerders kan op ’n digitale swartbord werk, grafieke trek en selfs ’n paar speletjies speel.

Vinnige feite:

  • Verduidelik Algebra en ander wiskunde
  • Ouderdomme 12 – 16 jaar
  • Gratis
  • iPad

MyScript MathPad

Skryf met die hand jou wiskunde vergelyking en laat MyScript MathPad dit vir jou digitaal maak. Resultate kan as LaTeX* of MathML weergegee word.

Vinnige feite:

  • 200 karakters kan herken word
  • Ouderdomme 12 – 22+ jaar
  • Gratis
  • iPad, iPhone

Probability Tools

Probability Tools beproef geluk of liewer waarskynlikheid met behulp van dobbelstene, muntstukke en tolle. Die interaktiewe speletjie stel kinders in staat om die grootte van elke seksie te verander om die waarskynlikheid te beproef.

Vinnige feite:

  • Beproef jou geluk met waarskynlikheidsomme
  • Ouderdomme 10 – 18 jaar
  • $1.99 (ongeveer R35)
  • iPad

Math Tricks

Die program is ontwerp om leerders te help om interessante tegnieke toe te pas om berekeninge baie vinniger te maak. Dit is ’n goeie program om leerders te help om maaltafels vinnig en akkuraat te leer.

Vinnige feite:

  • Oefeninge vir wiskunde probleme
  • Ouderdomme 8 – 13 jaar
  • Gratis
  • Android

Wil jy graag 'n verskil maak?

Word 'n Solidariteit Helpende Hand ondersteuner!