Tienerselfdood is voorkombaar

Yolandi Singleton

Om ʼn tiener in vandag se tyd te wees, is nie maklik nie, en dit bied ook vele uitdagings. Daar is ook verskeie stresfaktore wat tieners moet hanteer. Tieners voel dikwels hulle word nie verstaan nie. Verder is die hormonale veranderinge, sowel as die ontwikkeling van ʼn eie identiteit twee faktore wat ʼn rol in tieners se verwarringsgevoelens, wispelturige emosies en spanningsvlakke speel.

Selfdood is ʼn onderwerp wat sover as moontlik met uiterste sensitiwiteit hanteer moet word omdat dit met die sielkundige welstand van die mens verband hou. Persone wat selfdood oorweeg, glo en is oortuig dat die wêreld ʼn beter plek sonder hulle sal wees, as hul nie meer daar is nie. Hul glo verder, en het hulself bowenal reeds oortuig, dat die persone naby aan hulle beter af sal wees sonder hulle. Hulle ervaar ʼn gevoel van totale hopeloosheid, en hulle sien geen ander uitweg as selfdood nie. Hulle is nie selfsugtig nie, maar wil hul lewens beëindig om hulself van verskeie oorweldigende stresfaktore te verlos.

Tieners wat aan selfdood dink, is soms die slagoffers van boeliegedrag, of hulle is byvoorbeeld die slagoffers van seksuele, fisiese en/of emosionele mishandeling en verwerping van persone naby aan hulle. Navorsing het ook getoon dat trauma ʼn groot impak op die funksionering van die brein uitoefen, wat ’n chemiese wanbalans teweegbring. Dit gebeur in die gedeelte van die brein waar logika ’n kernrol speel. Die gevolg is dus dat persone wat veelvuldige traumas beleef, hul logiese denkvermoëns verloor en irrasioneel begin dink en optree. Hier is ʼn paar waarskuwingstekens van selfdood by tieners:

  • Die tiener verbaliseer dat hy/sy selfdood oorweeg en hom-/haarself wil beseer.
  • Die tiener skryf soms in gedigte, opdragte of opstelle oor selfdood en dat hy/sy daaraan dink.
  • Hy/sy neem nie die antidepressante wat aan hom-/haar voorgeskryf is nie.
  • Die tiener isoleer hom-/haarself en het nie ʼn behoefte om met sy/haar portuurgroep te sosialiseer nie.
  • Skielike verandering in persoonlikheid of in eet- of slaapgewoontes.
  • Konstante en uitermatige verbalisering dat hy/sy nie goed genoeg is nie.
  • Uiterste gedragveranderinge – met ander woorde die tiener tree totaal en al anders as vantevore op.
  • Geen drome of toekomsvooruitsigte nie.
  • Uitermatige woedeuitbarstings wat met aggressiewe gedrag en onvoorspelbare gemoedskommelinge gepaardgaan.

Daar word dikwels gesien dat wanneer ʼn tiener met selfdood dreig, dit ʼn manier is om aandag te soek. Dis egter belangrik dat enige vorm van selfdoodgedagtes by ʼn tiener nie as gering geag moet word of as net ʼn dreigement gesien moet word nie. Vervolgens word ʼn paar wenke verskafom selfdoodpogings te voorkom en te hanteer:

  • Werk aan ʼn oop verhouding met jou tiener, waar hy/sy voel dat hy/sy openlik en vrylik met jou as ouer kan kommunikeer. Die beste manier om ʼn oop verhouding en goeie kommunikasie te bevorder, is om op jou kind se behoeftes ingestel te wees en aandagtig te luister na dit wat jou kind vir jou vertel.
  • Identifiseer jou kind se behoeftes terwyl jy na hom/haar luister, en moet nie hul sienswyses of emosies ignoreer nie. Moet nie hom/haar laat voel dat hy/sy oorreageer nie, maar erken die sienswyses en/of emosies en bied ondersteuning.
  • Deel ook jou gevoelens as ouer, sodat jou kind jou halfpad kan ontmoet.
  • Moedig jou kind aan om met sy/haar portuurgroep te sosialiseer.
  • Waak daarteen om jou tiener aan enige gesinsgeweld bloot te stel, veral tussen julle as ouers.
  • Tree onmiddellik op wanneer jou kind ʼn bekentenis oor enige boeliegedrag, asook seksuele, fisiese en/of emosionele mishandeling maak.
  • Moedig jou kind aan om enige strestoestande te probeer vermy of te voorkom.
  • Wanneer jou kind selfdoodgedagtes geverbaliseer het, of selfdoodpogings aangewend het, verwyder voorwerpe, soos vuurwapens, messe, toue, medikasie, gas en alkohol.

Wanneer jy as ouer of versorger bogenoemde riglyne gevolg het en steeds selfdoodgedagtes by jou tiener waarneem, kontak ʼn kundige – soos ʼn maatskaplike werker, sielkundige of psigiater – vir verdere ondersteuning en weet ook dat jy as ouer nie alleen is nie. Soek dadelik hulp en leiding, aangesien die spanning en bekommernis oor jou kind ook ’n langtermyn- negatiewe uitwerking op jou as ouer kan uitoefen.

Kom gesels gerus saam oor angs, trauma en verlies as ‘n sentrale tema, op #HelpendeHand se groep ‘Solidariteit Helpende Hand – angs- en traumaondersteuning’ . [KLIK] hier om by die groep aan te sluit: https://www.facebook.com/groups/347803156879581/