Toe ek besef het my werk is nie om mense te red nie, maar om saam met hulle te bou

As maatskaplike werker het ek my loopbaan begin met ‘n sterk begeerte om mense se nood te verlig. Ek wou help, regmaak en probleme oplos. Mettertyd het ek egter besef dat ‘n sogenaamde redder-mentaliteit nie volhoubaar is nie – nie vir die persoon in nood nie, en ook nie vir my as maatskaplike werker nie.

Wanneer ons mense probeer “red”, neem ons onbewustelik beheer oor hulle. Ons raak die kundiges, en hulle raak afhanklik. Die fokus skuif van hul vermoëns na hul tekorte. Dit ontneem mense van hul waardigheid en hul geleentheid om self verantwoordelikheid en eienaarskap te neem oor hul lewenspad.

By Helpende Hand het ek geleer dat ware bemagtiging anders lyk. Dit beteken om langs mense te staan, nie voor hulle nie. Om saam te werk, nie oor te neem nie. Werksyn vra dat ons luister, vrae vra en mense help om hul eie sterkpunte raak te sien en te ontwikkel. Dit is ‘n proses van bou – soms stadig, soms met struikelblokke – maar altyd met die mens self in die middelpunt.

Ek sien nou nie net nood nie, maar potensiaal. Ek besef dat volhoubare verandering nie gebeur wanneer iemand “gered” word nie, maar wanneer iemand bemagtig word om self op te staan. My rol is nie om die werk vír mense te doen nie, maar om sáám met hulle te bou aan ‘n toekoms waarin hulle hulself kan help. En dit is waar ware hoop begin.

Artikel geplaas in