Toekomsberaad wys pad vorentoe vir maatskaplike sektor

Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand het op 18 Julie hul Toekomsplan bekendgestel. Dit dui aan dat die maatskaplike sektor van krisisidentifikasie moet oorskakel na toekomsbou.

Die plan is bekendgemaak tydens die Toekomsberaad 2025, ‘n strategiese byeenkoms wat voortgebou het op die insigte van die Krisisberaad 2024. Die plan dui op ‘n duidelike verskuiwing weg van die blote uitwys van krisisse en ‘n gekla na gefokusde toekomsbou en selfstandige optrede in die maatskaplike sektor.

Kundiges, gemeenskapsorganisasies en ander belanghebbendes het byeengekom om die tema “Van krisis na toekoms: Die maatskaplike sektor neem beheer” te bespreek en ‘n nuwe rigting vir maatskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika te bepaal. Die Toekomsplan bevat ‘n strategie met konkrete aanbevelings en uitvoerbare stappe om die sektor te hervorm en versterk.

Die plan spreek ook kernuitdagings aan soos wetgewende raamwerke, befondsingsmodelle, dienslewering en beroepseer. Dit bevat kort-, medium- en langtermyndoelwitte wat daarop gerig is om groter selfstandigheid, doeltreffendheid en professionele integriteit in die sektor te bewerkstellig.

Volgens Bianca Smit, netwerkkoördineerder van Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk, lê die kern van die plan in gemeenskapsgedrewe verantwoordelikheid. “Ons wag nie meer op die staat nie. Ons neem self die leiding – vir ons gemeenskappe, deur ons mense, volgens ons plan,” sê Smit.

Smit het benadruk dat volhoubare transformasie slegs moontlik is indien gemeenskappe self betrokke raak. “Die netwerk kan nie hierdie taak alleen verrig nie. Ons doen ‘n beroep op ons gemeenskappe om saam met ons ‘n kultuur van selfverantwoordelikheid en ‘n gesindheid van “ons sal self” te vestig.

Die plan bevat verskeie sleutelinisiatiewe, waaronder:

  • die vestiging van ‘n nasionale regsadviesplatform vir maatskaplike werkers;
  • die ontwikkeling van selfstandige befondsingsmodelle deur middel van maatskaplike entrepreneurskap;
  • die verbetering van dienslewering deur middel van gekoördineerde opleiding, die optimalisering van strukture en tegnologiese innovasie; en
  • die bevordering van beroepseer met mentorskapprogramme en doelgerigte bewusmakingsveldtogte wat veral gemik is op jong beroepslui.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die beraad en bekendstelling van die Toekomsplan beskryf as ‘n keerpunt rakende die manier waarop die gemeenskap krisisse benader.

“Die bedoeling was ‘n beraad van hoop, ‘n beraad wat sê daar ís ‘n toekoms. Ons moet daarnatoe werk. Dit gaan nie vanself kom nie. Ons is nie aangewese op iemand anders nie. Ons kan nie wag vir die antwoorde nie; ons moet dit gaan haal,” sê Noëth.

“Verlede jaar het ons 67 krisisse geïdentifiseer. Hierdie jaar het ons begin om planne te beraam om dit op te los. Dit is nie kitsoplossings nie, maar dit is planne wat hoop en rigting gee,” het Noëth bygevoeg.

Hy het verder benadruk dat die beraad nie ‘n kla-sessie was nie, maar ‘n strategiese, doelgerigte poging om oplossings te soek. “Ons leef in uitdagende tye, ja, maar dit is nie uniek nie. Elke era het sy storms. Ons moet ophou om probleme aan die volgende geslag oor te dra. Daar is nie maklike antwoorde nie, maar daar ís antwoorde. Ons het die vermoë, die geskiedenis en die roeping om dit te vind.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die rol van gemeenskappe en die belangrikheid van maatskaplike werkers beklemtoon.

“Maatskaplike werkers is die “binders” wat gemeenskappe versterk en byeen hou. ‘n Gemeenskap wat bind, is sterk, soos ‘n driedubbele tou – dit breek nie maklik nie. Diensbaarheid, ondersteuning en lojaliteit is die drade wat gemeenskappe inmekaarvleg en maatskaplike werkers is die binders.”

Hermann het daarop gewys dat die verval van staatsverantwoordelikheid ‘n gevaarlike werklikheid is, maar dat dit ook ‘n geleentheid bied vir gemeenskappe om self verantwoordelikheid te neem.

“Waar baie mense bekommerd is oor die toekoms van maatskaplike werk te midde van die onttrekking van staatsubsidies, breek daar nou ‘n nuwe era aan. Dit is ‘n era van gemeenskappe wat bind. Maatskaplike werkers is bedoel vir tye soos dié.”

Hy het benadruk dat oplossings nou vanuit gemeenskappe self moet kom. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is juis geskep as ‘n ruimte waar dié binders bande kan bou, beste praktyke kan deel en kennis en tegnieke aan jonger kollegas kan oordra.

Die Toekomsberaad 2025 het volgens die organiseerders nie net ‘n gebeurtenis verteenwoordig nie, maar die afskop van ‘n burgerlike beweging vir selfstandige maatskaplike ontwikkeling.

“Die krisis was ons wekroep. Nou bou ons saam, doelgerig en vol moed aan die toekoms,” sluit Smit af.

Klik hier om die volledige Toekomsplan te sien.