Skip to content

Top Afrikaanse wiskundeskole vereer

CR3E5861_small

Van links is dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, Annette Lovemore, DA skaduminister van onderwys, Elmarie van Loggerenberg, adjunk-hoof van Afrikaans Hoër Seunskool, Marlene du Toit, departementshoof van wiskunde by Afrikaans Hoër Seunskool en prof. Gerrit Stols, wiskundedosent aan die Universiteit van Pretoria.

Solidariteit Helpende Hand se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) het vandag Afrikaanse skole vereer wat tydens die 2014-matriekeindeksamen uitstekend in Wiskunde gevaar het.

Agt-en-twintig skole wat almal ’n buitengewone aantal wiskunde-onderskeidings behaal het, se skool- en vakhoofde het tydens ’n toekenningsgeleentheid in Pretoria hul eretoekennings ontvang. Afrikaanse Hoër Seunskool is aangewys as die Afrikaanse skool wat die meeste wiskunde-onderskeidings behaal het, met 55 onderskeidings wat deur hul 2014-matrieks ingepalm is. Die skole wat teenwoordig was, het altesaam 612 onderskeidings in wiskunde behaal.

“Wiskunde is een van die grootste uitdagings in ons huidige onderwysstelsel en ook die hekwag vir talle studierigtings en skaars beroepe,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand. “Ons weet dat dit baie harde werk verg om hierdie soort resultate te verkry en daarom verdien hierdie skole erkenning vir hul uitnemende prestasie en die onskatbare bydrae wat hulle tot hul leerders se skoolopleiding en hul toekoms maak.”

CR3E5866_small

Elmarie van Loggerenberg, adjunk-hoof van Afrikaans Hoër Seunskool en Marlene du Toit, departementshoof van wiskunde by Afrikaans Hoër Seunskool, met die ere-toekenning wat deur die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers toegeken is nadat die skool die meeste wiskunde-onderskeidings in die 2014-matriekeindeksamen ingepalm het.

Annette Lovemore, die Demokratiese Alliansie se skaduminister van onderwys, en prof. Gerrit Stols, Wiskundedosent aan die Universiteit van Pretoria, het beide as gassprekers by die geleentheid opgetree.

Volgens Stols vaar Afrikaanse skole baie goed in die konteks van Suid-Afrikaanse standaarde, maar soveel meer kan gedoen word om Afrikaanse leerlinge wêreldwyd nog meer kompeterend te maak. “’n Groter klem op probleemoplossing en die ontwikkeling van kritiese denke in die wiskunde-klaskamer sal meewerk om briljante kinders nog beter te laat vaar in wiskunde.”

Lovemore het gesê dat die regruk van Suid-Afrika se onderwysstelsel sentraal staan tot elke ander probleem in Suid-Afrika. “As ons verlede jaar se uitslae as maatstaf neem, sal slegs 11% [van die een miljoen jong kinders wat elke jaar met hul skoolloopbaan begin] wiskunde in matriek slaag. Dit kan nie bloot net aanvaar word nie. Dit móét verander.”

Sy het beklemtoon dat onderwysers help om kinders vir ’n suksesvolle lewe voor te berei en dat hulle daarom ’n enorme verantwoordelikheid op hul skouers het. “Ek is bevoorreg om vandag in die geselskap te wees van mense wat die waarde van onderwys en die resep vir sukses verstaan. Solank ons mense soos julle in die onderwysstelsel het, is daar hoop vir elke kind wat vanjaar met sy of haar skoolloopbaan begin het.”

Deur die werksaamhede van die VAW word daar jaarliks honderde wiskunde-onderwysers landwyd by middagseminare, eendagkursusse en driedagkongresse opgelei.