Tragiese Coligny-ongeluk word vir politieke redes misbruik

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gister, 3 Mei,  saam met instellings van die beweging, soos die vakbond Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand, ʼn noodbesoek aan die dorp Coligny gebring. Hulle het die dorp besoek om die feite rondom die situasie te bekom, om die dorp se buurtwagte te ondersteun en om, waar nodig, maatskaplike hulp aan die gemeenskap te verleen.

 

Die besoek het aan die lig gebring dat ʼn gespanne politieke atmosfeer al vir ʼn geruime tyd tussen ANC-lede en die verkose burgermeester, Daniel Buthelezi, in Coligny heers. Volgens Buys is die gemeenskap oortuig dat alles daarop dui dat die dood van die 16-jarige Matlhomola Mosweu, wat dood is toe hy na bewering van ʼn boer se bewegende bakkie afgespring het, ʼn tragiese ongeluk was. Buys meen dié ongeluk word intussen vir politieke agendas misbruik deur mense wat nie in die dorp bly nie en wat met busse aangery word. Dit het misdaad en plundering tot gevolg gehad. ʼn Swaar polisieteenwoordigheid is in die dorp ontplooi en dit was gister duidelik dat die SAPD die situasie wel onder beheer het.

 

“ʼn Gebeurlikheidsplan is gereed indien verdere opstand ná die hofuitspraak voortduur,” het Buys gesê. In hierdie stadium voorkom die polisie en die gemeenskap toegang van eksterne moeilikheidmakers wat op ongewenste maniere die situasie wil aanstook.

 

Volgens Coligny se sakelui het daar oor die jare nog altyd ʼn gesonde rasseverhouding in die gemeenskap geheers en hierdie situasie word uit verband geruk deur die misbruik van sosiale media en die verspreiding van vals gerugte oor die gebeure. Buys sê dit is merkwaardig om te sien hoe die gemeenskap van Coligny steeds saamstaan en mekaar help. Dit nadat groot skade aangerig is aan privaat wonings, besighede in die informele nedersetting wat hoofsaaklik deur buitelanders besit word en winkels in die dorp.

 

Ná talle gesprekke wat met lede in die gemeenskap gevoer is, is die oorheersende gevoel wat na vore kom dat die twee mans onskuldig is en dat die voorval ʼn ongeluk was. “Die reg moet sy volle gang gaan en lede van die publiek moet hulself daarvan weerhou om self landdros te speel deur die mans in die media skuldig te bevind,” het Buys gesê.

 

“Enige iemand wat ʼn moord pleeg, hetsy wit op swart of swart op wit, verdien om met die volle mag van die reg te doen te kry.  Ons is egter van mening dat hierdie voorval ‘n voorbeeld van dubbelstandaarde is omdat die twee mans wat daarby betrokke is Afrikanermans is.”

 

Solidariteit Helpende Hand se vrywilligertak in Coligny staan tans verskeie Afrikaanse gesinne by wat deur die onlangse geweldpleging in ʼn krisis gedompel is. Hulp en bystand word verleen aan inwoners wat kos, klere en ander hulp benodig. Die Coligny-tak van Helpende Hand ontvang en koördineer steeds hulp in die vorm van lewensmiddele en meubels vir twee gesinne wat hul huise verloor het. Solidariteit Helpende Hand het vandag nog R20 000 vir noodleniging geskenk en onderneem om verdere bystand te verleen waar nodig. (sien Solidariteit Helpende Hand se verklaring aangeheg).

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, staan buurtwagte by en het onderneem om hulle te ondersteun deur middel van die nodige opleiding en toerusting. AfriForum beplan ook om die Coligny-voorval as ʼn inset vir sy nasionale veiligheistrategie te gebruik.  Hierdie strategie word Saterdag 6 Mei, tydens AfriForum en die Solidariteit Beweging se veiligheidsberaad, bekendgemaak.  Besoek gerus www.veiligheidsberaad.co.za vir meer inligting.

 

“Enige dorp wat in so ʼn ongewenste situasie gedompel word, kan veilig slaap en ongedeerd daarvan afkom as hulle georganiseerd is, behoorlik opgelei word, oor voldoende stelsels beskik en daar effektief met mekaar gekommunikeer word,” sê Buys.