Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand: Phillip Bruwer

Solidariteit Helpende Hand waarsku dat die jongste invoertariewe wat Amerika op Suid-Afrikaanse produkte ingestel het verreikende maatskaplike gevolge kan hê. Helpende Hand sê die 30% verhoging is nie net ‘n ekonomiese terugslag nie, maar ‘n krisis wat die werksmark, werkloosheid, voedselsekuriteit en die breër welsyn van gemeenskappe negatief gaan beïnvloed.
“Wanneer werksgeleenthede verdwyn, volg maatskaplike probleme. ‘n Samelewing sonder werksgeleenthede moet later staatmaak op welsyn, en Suid-Afrika is reeds gevaarlik naby daaraan om ‘n welsynstaat te word,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Noëth sê Helpende Hand bevorder welsyn deur welstand, en welstand word gebou op werksyn, nie op afhanklikheid van die staat nie.
“Ons is bekommerd dat hierdie tariefverhoging werksgeleenthede in sleutelbedrywe soos landbou, vervaardiging en mynbou ernstig gaan knou. As mense nie meer werk het nie, skuif die las na die maatskaplike sektor en dan loop ons reguit in ‘n stelsel van afhanklikheid in,” sê Noëth.
Volgens die Sitruskwekersvereniging kan die nuwe tariefverhoging tot 35 000 werksverliese in slegs daardie landbousektor lei wat, volgens Noëth welstand en sosio-ekonomiese welvaart in daardie gemeenskappe in gedrang gaan stel.
Noëth sê hierdie is maar net een voorbeeld van die verrykende gevolge wat die invoertariewe op Suid-Afrika kan hê.
Helpende Hand doen ‘n dringende beroep op die regering om die verband tussen ekonomiese besluite en maatskaplike stabiliteit te erken. “Wanneer jy nie welstand met werksyn beskerm nie, gaan die rooi ligte in die maatskaplike omgewing een vir een aan. Dit moet ernstig opgeneem word.”
Noëth waarsku verder dat voedselsekerheid ook ‘n toenemende risiko raak. “Tot dusver, selfs tydens Covid, het Suid-Afrika darem daarin geslaag om voedselsekerheid te handhaaf. Maar as tariefverhogings die landbou tref, kan dit ‘n kettingreaksie ontketen wat uiteindelik die kos op mense se tafels raak en dit gaan ‘n groot maatskaplike impak hê.”
Solidariteit Helpende Hand roep die regering op tot daadwerklike ingryping om die situasie te beredder. “Ons het ‘n strategiese, toekomsgerigte beleid nodig wat werk beskerm, voedselsekerheid versterk en welstand met werksyn verseker,” sluit Noëth af.