UIT DIE DAGBOEK VAN ’N MAATSKAPLIKE WERKER

Deur: Marlene Malan

Februarie is verhoudingsmaand in Solidariteit Helpende Hand en een van die kosbaarste verhoudings is vriendskap. Van ʼn jong ouderdom kom ons agter hoe belangrik vriendskappe in ons lewens is. Vriende kom in alle vorms en groottes. Party het groot harte. ʼn Paar bring die sonskyn van lag. Een bied jou dalk ʼn skouer om op te huil. ʼn Ander kan luister as jy kerm en kla, of jou sagkens waarsku of vermaan al maak die waarheid dalk seer. Pelle sal jou komplimenteer, drukkies gee, na jou kinders kyk en jou bederf met jou verjaarsdag. Bo dit alles sal  ʼn goeie vriend of vriendin jou vergewe en lojaal bly.

Watter tipe vriende jou lewe ookal opvrolik; ware, gesonde vriendskappe is ʼn gawe van God. Hy het ons gemaak om in verhouding met mekaar en die belangrikste  ̶  met Hom  ̶  te staan.

Die wonder van vriendskap is nie net die uitgestrekte hand nie, ook nie die vriendelike glimlag of vreugde van kameraadskap nie; dit is die geestelike inspirasie wat ʼn mens kry as jy ontdek dat iemand anders in jóú glo en bereid is om jóú vriendskap  te vertrou.

̶  Ralph Waldo Emerson

Vir hoeveel van ons is vriendskap ook sinoniem met koffiedrink? Hoeveel keer in jou lewe het jy al jou vriend of vriendin genooi om jou vir koffie te ontmoet. As jy dan na die koffiewinkel aangestap kom, ruik jy al van vêr af die koffie-aroma wat daardie goedvoelboodskap na die brein stuur. Koffie gee nie net energie nie, maar kom ook in allerhande geure en sterktes voor. Koffiemaak is verder ʼn kuns  ̶  elke geur en sterkte het sy spesiale broutyd nodig. Alle koffies het wel een ding in gemeen, hulle het tere sorg nodig om die beste koffie te kan wees.

Vriendskappe is soos koffie.

Sommige vriende het sterk koffie in grootmaat nodig en ander weer ʼn matig koppie boeretroos nou en dan. Dan kry ons daardie vriende wat met minder tevrede is, maar met spesifieke voorkeur hulle koffie geniet. Ons het almal vriende op ons lewenspad nodig. Die ekstroverte het baie vriende as energieopwekkers nodig, terwyl die introvert met ʼn paar vriende tevrede is omdat té veel mense geneig is om hulle van hul energie te dreineer.

Kafeïenvrye vriendskappe

Dit is die vriend met wie jy af en toe gesels, maar wat nie eintlik skop aan die dag gee nie. Die verhouding voel oppervlakkig, maar tog is hul nodig want hulle verleen balans en sosiale ewewig aan ons lewe. Dit is aangenaam om met hulle te gesels, maar dit help ons nie om ons emosionele koppie vol te maak nie. ʼn Gemeenskaplike doelstelling speel hier ʼn groot rol. Voorbeelde van kafeïenvrye vriendskappe is ouers wat saam langs die netbalbaan of rugbyveld is. Hulle leer mekaar ken en gesels land en sand, maar diep emosionele gesprekke is nie ter sprake nie. Volgende jaar staan dieselfde ouers weer langs die baan en die kuiers en geselsies gaan bloot voort.

Die skares wat Jesus gevolg het, is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Die skares het Hom gevolg, maar by baie is die harte nie werklik deur die gemeenskap met ander geroer nie. Alhoewel dit aangenaam is, vorder hierdie vriendskappe nooit van oppervlakkige behoeftes na ware hart-tot-hart-gesprekke nie.

Espresso-vriendskappe

Espresso- vriende is soet en kortstondig. Dit is die kortstondige vriendskappe wat ons in die lewe bou en wat aan kleur ons lewe gee.  Gemeenskaplike belangstellings en funksies is hier die samebindende faktore. Dit is soos die goeie vriendin in my kuns- of naaldwerkklas. Die vriendskap is goed en ons deel mekaar se stories. Ons ondersteun en luister en ons kan selfs mekaar se bekommernisse dra, maar met tyd skei ons paaie en ons gaan weer aan.

Ek dink die 72 dissipels wat Jesus uitgestuur het om die Woord te gaan verkondig, pas in hierdie kategorie.

Cappuccino-vriendskappe

Cappuccino-vriende is belangrike vertrouelinge. Ons het gewoonlik verskeie van hulle op ʼn gegewe tydstip. Hierdie sterk vriendskappe is standhoudend en oorleef selfs oor ʼn afstand. ʼn Voorbeeld van hierdie tipe vriendskap is ʼn vriend of vriendin met wie jy dalk net ʼn paar keer deur die jaar praat, maar die liefde en vertroue wat julle deel, hou die vriendskap in stand.

Jesus se kleiner kring van dissipels is ook ʼn Bybelse voorbeeld. Hierdie vriende het mekaar versterk en só verskerp hierdie soort vriende ons ook met hul raad.

Caffe latte-vriendskappe

Hierdie is een van die mooiste tipe vriendskappe. Hierdie soet, langdurige verhoudings verskaf ʼn verruklike geur aan jou lewe. Jy vind gewoonlik net drie tot vier van hierdie kosbaarhede in jou leeftyd.  Hierdie vriende bewaar jou geheime. Hulle help jou om jouself te sien soos jy werklik is. Hulle sien die slegte en goeie in jou persoonlikheid raak en sal vir jou die waarheid in goedheid en liefde vertel. Hierdie kosbare mens sal jou sielsmaat en deel binnekring en word.  Latte-vriende het jou lief deur die lewe se blydskap en smart. Hierdie soet, langdurige vriendskappe word met die tyd gesmee. Dit raak sterker namate die verhouding groei en deur die lewe se onsekere omstandighede verdiep. Verlustig jou gerus in jou latte-vriende. Hulle is ʼn geskenk uit die hemel.

Jakobus, Johannes en Petrus was Jesus se latte-vriende. Dawid en Jonathan was mekaar se latte- vriende en het selfs ʼn verbond gesmee as teken dat hulle mekaar sal bystaan.

Hierdie is alles voorbeelde van goeie, opbouende en sterk vriendskappe. Die realiteit is egter dat daar ook ongesonde vriendskappe is. Dis dié mense wat voorgee dat hulle vriende is, maar ons geestelike en emosionele skade kan berokken. Hierdie vriendskappe kan suur word en ʼn onaangename smaak agterlaat. Hierdie vriendskappe kan ons die bitter koffie-tipes noem. Hoewel Jesus die teenoorgestelde van hierdie tipe vriendskap aanbied, pas die bitter koffie-beskrywing perfek by een van Sy twaalf dissipels, naamlik Judas. Ek glo ons almal het vriende wat ons een of ander tyd in die lewe verraai het. Hierdie vriendskappe kan jou nie net seermaak en ʼn letsel laat nie, maar kan jou ook op ʼn dwaalspoor lei. Hierdie vriendskap bring baie skade vir jou en jou gesin. Soms moet jy ʼn besluit neem om so ʼn vriendskap te beëindig, om jouself en ander te beskerm. Maar dit moet op só ʼn wyse geskied dat jy steeds in vrede met daardie persoon kan leef.

Daar was nie woede en haat van Jesus se kant teenoor Judas toe hy Hom verraai het nie, maar eerder smart. Paulus skryf in Romeine 12:18  As dit moontlik is, sover dit van jul afhang, leef in vrede met alle mense. Mag dit van elkeen van ons gesê word wat vir die Here lief is.

Watter soort koffie is jy en watter soort koffie is jou vriende? Ken jouself en weet watter koffie jy nodig het om nader aan Jesus te beweeg. Jesus is die voorbeeld van ʼn perfekte vriendskap wat liefde, omgee en vrede weerspieël. Wanneer ons gereeld in Sy teenwoordigheid kom sal ons in staat wees om Sy wonderlike aroma en geur aan mense oor te dra wat dit in hierdie Covid-19-dae baie nodig het.