Uit die dagboek van ʼn maatskaplike werker

-Elsha Hermann

My is uit en dis alles te wyte aan Covid-19.

Maart 2020 – ons almal se lewens maak ʼn draai van 180˚. Wat normaal en bekend was, word vinnig iets van die verlede. Aanpassings maak, kop bo water hou, moed inpraat, planne maak, beur voort – dit alles word spoedig die norm van my bestaan.

By Solidariteit Helpende Hand word werksaamhede aangepas om die nuwe onvoorspelbare nood vinnig en doeltreffend te hanteer. Voedselhulp word by die tonne ingesamel, versprei en kospakkies by die duisende word uitgedeel. In hierdie inperkingstyd word hofsake oor die heropening van kleuterskole en die verspreiding van voedsel gevoer. Talle stryde moet aangeknoop word net om kos op mense se borde te kry en om dit te kan bly doen. Ons word oorval deur behoeftiges wat na ʼn stukkie kos smag. Instellings kry swaar en moet gehelp word. Die sirkel van nood onder mense word net groter en groter. Net soos wat die nood aan kos groter en groter geword het, so word die sirkel van afhanklikheid ook al hoe groter.


My begin behoorlik in my skoene sak. Ek begin regtig om met myself te stoei. As maatskaplike werker glo ek in die potensiaal en gawes van mense en my hande begin jeuk. Die afhanklikheid wat deur die pandemie geskep word, deur toelaes en nóg meer toelaes en die gevolge wat dit op die mens se psige het en gaan hê, laat my nog meer met my hande in die hare sit en ek besef dat dit miskien nou tyd raak om iets oor my te sê.

Ons by Solidariteit Helpende Hand begin om ʼn gemeenskapherstelplan te skryf, wat gemeenskapontwikkeling bevorder, want met hierdie pandemie het ons werklike herstel nodig. Hierdeur begin ek my terugkry en ek raak ʼn bietjie rustiger. En so begin die Helpende Hand om weer met nuwe moed en energie ons te herstel, of anders gestel, gemeenskapontwikkeling.

Ons besef dat al hoe ons mense uit die swaarkry en verpletterende gevolge van Covid-19 gaan kry, is om mense se potensiaal, vaardighede en gawes te bevorder deur gemeenskapsontwikkeling sodat hulle deur selfdoen, selfverantwoordelikheid en gemeenskapsondersteuning en gebondenheid weer moed skep om voort te gaan. Die hand is daar, maar die hand in nood moet wilskrag of ʼn wilsbeweging hê. Dit klink na maklike woorde wat vinnig ingespan word, maar dit is nie maklik om dit ten uitvoer te bring nie. Dit is egter die enigste uitweg!

Met gemeenskapsontwikkeling in gedagte besef ek dat:

Ons nie net kan voorsien nie, want dan beperk ons.
Ons nie net kan help nie, want dan verswak ons.
Ons nie net kan gee nie, want dan ontneem ons.

Ons kan wel oplei, want dan bring ons verandering.
Ons kan ontwikkel, want dit bring groei.
Ons kan potensiaal ontgin, want dan bring ons waarde.
Ons kan hoop skep, want dan bring ons ware volhoubaarheid.

Gemeenskapsontwikkeling bring hoop en herstel. My gô is gered. Hoe lyk joune?