Uit die dagboek van ‘n Maatskaplike Werker – Familie is nie altyd bloed nie

-Deur Marthie Maritz

Ek het die voorreg gehad om in ‘n klein gemeenskap groot te word met baie familie rondom my.  Die hoofstraat was op ‘n stadium twee huise dan familie, twee huise weer familie en twee huise nog familie en dan is die einde van die straat daar.  Dit was ‘n fees om al die niggies en nefies so naby te kon hê. Die familie wat vêr was, het ons ten minste een keer ‘n jaar gesien.  Ouma se groot huis, met die koolstoof in die kombuis is een van my mooiste herinneringe.  Ek ruik nou nog die hout en die antrasiet.

 

Ouma en Oupa was die spil waarom familie gedraai het. Ek is vandag nog baie lief en geheg aan al my niggies, nefies, ooms en tannies al kan ons nie meer so gereeld met mekaar gesels nie. Ek het ook die voorreg om tydens ‘n krisis slegs ‘n oproep te maak en een van my dierbare familielede sal met soveel liefde help.

 

So kry ek as maatskaplike werker van die Solidariteit Helpende Hand, tydens die inperking ‘n oproep van ‘n bekommerde gemeenskapslid – ‘n Vrou woon in die naby geleë bos. Ek moet die vrou gaan besoek, maar nie sonder ‘n plan nie. Met hulpbronne in die omgewing kan ons dalk ‘n plan maak.

 

Die dag van die besoek breek aan. Ek ontmoet haar agter ‘n masker. Sy kruip sommer vinnig in my hart in. Ek wil my hoed vir haar afhaal, omdat sy vir so lank in ‘n bos kon oorleef het. Soos ons gesels kom ons by die vraag oor hereniging. Weet jy waar is jou familie? Haar antwoord is nie vreemd, maar tog ‘n vuishou in my maag.  Ek het nie meer ouers nie.  Ek het nooit by hulle grootgeword nie.  Daar was maar altyd bakleiery.  My oom en tannie het my grootgemaak.  Ja ek was getroud, het ‘n seun.  Hy is weggeneem as gevolg van gesinsgeweld. Ek is al geruime tyd geskei.  Daar was ander mans.  Maar hulle bly nie lank nie.  Hulle voel sy is dom en ‘n las vir hulle. My gedagtes raak verstrengel – waarheen, hoe, wat, gaan sy wil?

 

Ons betrek ‘n gemeenskapleier wat bereid is om vir haar ‘n kamer te gee. Haar eie kamer! En die prys vir die kamer is nie sleg nie. Die gemeenskap begin ook om verantwoordelikheid te neem. Ons kry ‘n donasie vir ‘n bed, beddegoed en ag sommer baie waarmee ons vir haar ‘n eie tuiste kan maak. Alles word nie vir haar gedoen nie, daar is baie goed wat sy bereid is om self te doen.  Ek is so trots op haar.

 

Toe ons wegry is my gebed “Here stap saam met haar.”

 

Dis ‘n week later en ek ontvang ‘n oproep van haar. Die stem aan die anderkant klink anders, klink amper soos ‘n huppel in die stem. Sy is gelukkig waar sy is. Sy het haar eie plek. Die mense is vriendelik.  Hulle is nou haar familie.

 

Familie is nie altyd bloed nie.

 

Word deel van ons Solidariteit Helpende Hand familie!