Uit die dagboek van ‘n maatskaplike werker

Bianca Steyn

As ‘n maatskaplike werker sit ek met ʼn arsenaal van stories wat sorgvuldig in my binnekant geliasseer is onder “konfidensieel – hanteer sagkens”. Elke nou en dan kry ek die voorreg om uit hierdie liasseerkabinet stories van onthou te gaan haal. Maar goeie onthou …

Dit is hierdie stories van goeie onthou wat my weer opnuut geesdriftig maak. My mondhoeke stilletjies laat lig. Onwillekeurig. Ek dink spesifiek aan ‘n oomblik van onthou toe ek ‘n afgeleë laerskool besoek het. Dit was pouse. Ek het skaars my kar se deur oopgemaak of ek word oorval met nuuskierige gesiggies. As maatskaplike werker is dit tweede natuur om altyd oplettend te wees – daardie tipe oplettendheid waar jy iets soek maar hoop jy kry niks. Soos wat ek deur die gesiggies vorentoe probeer beur en my weg na die kantoor baan, let ek op dat een kind se veter los is. Ek roep die gesiggie nader en verduidelik dat sy veter los is. Hy vra of ek hom asseblief sal help en sit sy klein voetjie voor my neer. Soos wat ek sy veter vasmaak, sien ek net al hoe meer voetjies te voorskyn kom met ʼn gepaardgaande gegiggel wat naderhand verander in ‘n luidkeelse gelag. Voor my is daar net los veters. Ek bars uit van die lag en begin maar van ʼn kant af veters vasmaak met ‘n vae poging om te verduidelik van hasie wat deur die gat moet gaan en weer opkom en so meer. My pogings is met opregte waardering ontvang, met arms om my nek en lyf. In hierdie toestand moes ek kantoor toe stap. Wat ‘n ongelooflike voorreg. Dit is stories soos hierdie wat die onskatbare waarde van kinders se onskuld vir my kom uitlig. Dit is stories soos hierdie wat my motiveer om deel te wees van die beskerming van kinders se onskuld. My hoop is dat jy ook soos ek wil beskerm wat kinders s’n is en moet bly.