Inspirerende verhale van mense met breinbeserings

Geskryf deur: Cindy Holtzhausen- Algemene bestuurder van Brainlife

Daar is seker dinge wat die lewe vir altyd verander, dit vir altyd verdeel in ‘n tyd voor en ‘n tyd daarna. ‘n Breinbesering is een van hierdie dinge. Alhoewel ons samelewing maar min weet van breinbeserings, het Suid Afrika ‘n baie hoë syfer van beide traumatiese breinbesering (soos motorongelukke) en beroertes.

Breinbeserings word dikwels die “onsigbare epidemie” genoem, juis omdat die mense wat breinbeserings opdoen en hulle families so geisoleer is. Terwyl almal se lewens aangaan in ons gejaagde wêreld moet hierdie families alleen die skerwe probeer optel. BrainLife is ‘n organisasie wat hierdie families bystaan met terapie, berading en ondersteuning.

Ons deure is al sedert 2012 oop en ons ondersteun tans ongeveer 150 mense en hul families met breinbesering. Ons is altyd opsoek na vrywilligers en het ook ‘n program waar mense en besighede ‘n hand kan kom bysit vir die dag. So maak ons die wêreld makliker vir mense met breinbeserings. Een mens op ‘n slag. Sien ons op facebook of kontak ons by brainlife.tshwane@gmail.com. Ek deel ook graag die volgende twee verhale met julle.

Ontmoet vir Hester:

Ontmoet Hester, ‘n ma met ‘n breinbesering wat haar nie laat onderkry nie!

Ontmoet Hester, ‘n enkelma wat op die ouderdom van 46 jaar oud ‘n beroerte gehad het. Sy het nog nooit ophou aangaan of glimlag nie!

Een van die dapperste vroue wat jy ooit die vooreg sal hê om te ontmoet, is Hester. Hester was ‘n hardwerkende, enkelma toe sy ‘n beroerte op die ouderdom van 46 jaar oud gekry het. Dit klink te jonk maar die waarheid is dat beroertes op enige ouderdom gebeur.

As gevolg van die beroerte het Hester verlamming van die regterkant van haar lyf en moes weer leer loop. Haar regterarm is steeds verlam en dus vat sy die wêreld aan met net ‘n linker hand – een knoop op ‘n slag.

Die deel van Hester se brein wat taal prosseseer is ook deur die beroerte geaffekteer en sy lei aan Afasie. Dit beteken dat sy sukkel om die tale wat sy al van kinsbeen af ken te verstaan, praat, lees en skryf. Steeds kry die frustrasie van haarself uitdruk nie vir Hester onder nie. Sy is ‘n wys en sterk vrou en ‘n integrale deel van ons groep wat haar veral beywer om ander mense wat sukkel met kommunikasie te ondersteun.

Ontmoet Hester … ‘n vrou wat mense om haar elke dag leer wat die beteken om dapper te wees.

‘n Stukkie oor Gert:

Gert het op 19 jarige ouderdom ‘n breinbesering gekry. Niks kry hom onder nie!

 

Gert het op 19 jarige ouderdom ‘n breinbesering gekry. Niks kry hom onder nie!

Gert is ‘n ware vegter en het nie net oorleef nie maar almal se verwagtinge oortref. Gert was na sy ongeluk vir jare afhanklik van ‘n rolstoel en dokters en terapeute was dit eens dat daar geen kans is dat hy weer sou loop nie. Maar Gert het ander planne gehad… sy groot droom was om weer te kon loop en hy en sy familie het alles in hulle vermoë gedoen om hierdie droom te laat realiseer. Dit het hulle ses lang jare geneem, maar vandag loop Gert regop en trots.

Gert is ‘n dapper, wyse jong man met ‘n dryf om almal om hom beter te los as wat hy hulle ontvang het. Om hom te sien loop is ‘n herhinnering aan almal van ons om nooit op te gee nie.