Virseker-vennootskap verseker Afrikaans se toekoms

Virseker-vennootskap verseker Afrikaans se toekoms
Ons geld moet weer Afrikaans praat – Virseker
Flip Buys

Die Virseker-korttermynproduk van Auto & General het ‘n nuwe ooreenkoms met die Solidariteit Beweging gesluit om Afrikaans te bevorder. Afrikaanssprekendes beskik oor ʼn reusagtige 30% van die totale koopkrag in die land. Maar dit help niks as daardie geld nie Afrikaans praat nie. Ons taal se toekoms sal verseker wees as Afrikaanse koopkrag ten bate van ons taal en sy mense ingespan word. Dit is die hoofrede agter die betrokkenheid van die Solidariteit Beweging by die Virseker-korttermynversekeringsprojek. Virseker word bedryf en onderskryf deur die versekeringsmaatskappy Auto & General.

Ons moet Afrikaans weer deel van die hoofstroom-ekonomie maak. Navorsing het gewys dat ʼn taal sonder ekonomiese waarde se toekomskanse al skraler word. Daarom het ons wêreldwyd na die beste taalpraktyke gaan kyk om te bepaal hoe kleiner tale suksesvol kan voortbestaan. Ons het ook uit die verlede geleer. Afrikaans is grootgemaak deur sentleggings, koeksisters en pannekoek. Dit was die resep in ouma se tyd. Die nuwe resep is om koopkrag op ʼn sakegrondslag op so manier te kanaliseer dat dit ons taal bevorder. So kan ons weer ‘n nuwe taalekonomie skep.

Virseker werk op ʼn sakegrondslag om volhoubaarheid te verseker. Dit moet steeds die beste diens en produk teen die beste prys bied – in Afrikaans. Dit moet tot voordeel van die verbruiker, die versekeraar en van Afrikaans wees. Almal weet van die krisis waarin Afrikaanse onderwys en opleiding verkeer, maar oplossings kos geld. Daarom gaan Virseker oor die kanalisering van Afrikaanse koopkrag. Solidariteit, AfriForum en Auto & General gaan tot die Virseker Trust bydra om Afrikaanse onderwys en opleiding te bevorder. Ons wil Virseker tot ’n reus uitbou sodat Akademia tot ’n volwaardige wêreldklas universiteit uitgebou kan word om Afrikaanse jongmense landswyd in hul eie taal op te lei en om goeie Afrikaanse onderwys te verseker. Elke Afrikaanse polis gaan help om ʼn baksteen te koop of ʼn student te befonds, soos wat die koeksisters en pannekoeke van ouds gebruik is om die land op te bou. Ons wil nie nou ʼn monument vir die verlede bou nie, maar ʼn monument vir die toekoms.

Virseker vermenigvuldig Afrikaans met vyf

Die basiese idee agter Virseker is heel eenvoudig. Almal moet tog versekering hê ‒ dit is geld wat jy buitendien moet spandeer. Virseker bied die kans om waarde vir jou geld te kry en terselfdertyd ʼn bydrae tot die toekoms van Afrikaans te maak. So verseker jy jou huis en motor, maar help ook om ons taal te verseker sonder dat dit jou ekstra kos. Dié projek het ʼn suiwer sakegrondslag om volhoubaarheid op so ʼn manier te verseker dat almal wen. Die kliënt kry waarde vir sy geld, die versekeraar maak geld, en Afrikaans word vyf keer daardeur bevorder. Eerstens kry Afrikaans as besigheids- en reklametaal ʼn inspuiting, tweedens is dit ʼn inkomste vir die Afrikaanse media, derdens kry Afrikaanse kliënte die kans om in hul eie taal gehelp te word, vierdens word talle Afrikaanse studente die geleentheid gebied om te studeer, wat vyfdens tot die langtermynvoordeel van Afrikaanse kinders gaan strek.

Dan is daar ook nog ander voordele vir Afrikaans. Virseker maak Afrikaanse projekte soos Afrikaans is Groot moontlik met borgskappe en is ʼn navolgenswaardige voorbeeld wat bewys dat Afrikaans steeds ʼn suksesvolle handelstaal kan wees. As die huidige groei in Afrikaanse kliënte se steun vir Virseker so voortduur, gaan dit vir sakelui ʼn sterk sein stuur dat dit beslis sakesin maak om Afrikaans op groter skaal as handelstaal te gebruik. En ʼn taal met ekonomiese waarde se toekoms is verseker.

Daar is miljoene Afrikaanssprekendes in die land met koopkrag van miljarde rand. As ʼn wesenlike deel van hierdie groep hul geld Afrikaans laat praat, gaan die sakelui luister. Dan is Afrikaans se voortbestaan verseker. Virseker is vir die sakewêreld ʼn belangrike stap vorentoe en vir Afrikaans die begin van ʼn nuwe pad na ʼn versekerde toekoms. Afrikaanse mense wat Virseker ʼn kans gee om te kwoteer, gee weer vir duisende jongmense ʼn kans in die lewe.

Hierdie projek het homself al bewys. Virseker het oor die afgelope 5 jaar reeds R32 miljoen aan die Virseker Trust betaal, wat onder andere al ingeploeg is in die oprigting van Akademia, Helpende Hand se Studiefondssentrum, ondersteuning aan die Skoleondersteuningsentrum, en die oprigting van die Afrikaanse tegniese kollege Sol-Tech. Help Virseker om Afrikaans se toekoms te help verseker.