Volhoubare oplossings vir tersiêre studie is moontlik

Heher-kommissie se verslag kan beteken dat staat R34,6 miljard vir “gratis onderwys” moet opdok vir tersiêre studie

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) is van mening dat daar meer volhoubare metodes vir die befondsing van tersiêre studie bestaan. Die instelling is reeds vir byna ’n dekade besig om behoeftige studente te finansier. Die SFS is egter van mening dat die planne soos in die Heher-verslag uiteengesit, nie net onrealisties is nie, maar op die langduur die land se ekonomie skade kan berokken.

Volgens die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) was daar altesaam 969 154 studente aan tersiêre instellings in 2017 geregistreer. Trek hiervan af ongeveer 15%, oftewel 145 373 studente wat teen einde 2017 afgestudeer het (Universiteite/Technikons/Kolleges) en tel hierby ongeveer 280 845 nuwe eerstejaarstudente vir 2018. Dit bring ons by ‘n subtotaal van 1 104 626 potensiële studente vir 2018. Trek nou ongeveer 30% van 1 104 626 studente af wat volgens statistiek sal uitval, of hul studies staak, dan bring dit die getal af na 773 238. Gestel nou vir doeleindes van ons berekening, dat 50% van hierdie studente in jaar een van implementering kwalifiseer as “arm en behoeftig”, dan sal dit beteken dat die totale getal kwalifiserende studente studente in jaar een van implentering op 386 619 te staan kom.  Reken hierby dat die gemiddelde klasgeld in 2017  by kontakuniversiteite R43 212,50 beloop het, en tel  aansoek en registrasiegeld (R5 500) en behuising (R40 970) per student by, en die som tel op na R34,6 miljard in jaar een van implementering.

Volgens Stefan Pieterse, hoof van die SFS, eindig mens met ’n syfer wat styg soos wat inflasie, stygende studentegetalle, en groeiende studenteverwagtinge toeneem. “Wanneer daar logies gekyk word na die Heher-verslag, blyk dit dat gratis onderwys daartoe kan lei dat die staat tot R34,6 miljard in jaar een van implementering sal moet opdok.”

“Die staat moet eerder fokus op ’n model wat rentevrye studielenings vir studente moontlik maak, eerder as op lenings van handelsbanke, omdat die rentekomponent ’n knellende las op studente plaas. Dit sal studente die verantwoordelikheid leer om terug te betaal, maar sonder die las van drie tot vier jaar se opgehoopte rente wat hulle moet terugbetaal.”

Volgens Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, sal die bedrag Suid-Afrika verder in die skuld dompel. “Daar is eenvoudig niks meer geld om te spandeer nie,” sê Roodt. “Die president was verkeerd om die aankondiging te maak. Hierdie plan kan heel moontlik tot verdere afgraderings vir Suid-Afrika lei.”

Die Studiefondssentrum se model is daarop gebaseer dat ’n donateur (bv. ’n maatskappy, persoon of instelling) ’n student deur bemiddeling van die Studiefondssentrum finansieël help om te studeer, maar sodra ’n student afstudeer, moet hy/sy die lening terugbetaal waarmee die volgende student se studie dan weer gefinansier word.

Op hierdie wyse het die Studiefondssentrum oor die afgelope nege jaar reeds R164 miljoen se rentevrye studielenings aan 8 281 studente beskikbaar gestel.

Vir meer inligting oor die SFS, besoek www.studiefonds.co.za of skakel 012 644 4390.