Vroue wil wêreldrekord in pajamas laat spat

Agter staan Izelle Hoffman en Sue Pyler. Voor sit Dorette Potgieter en Venessa Schoeman.

Nagenoeg 2 000 vroue word benodig om binnekort ’n wêreldrekord te laat spat vir die meeste vroue wat gelyktydig in hul nagklere gaan fliek.

Finesse bied vanjaar ʼn massa Fliek-in-pajamas-aand aan. Nie net beoog hulle om die wêreldrekord te verbeter nie, maar doen hulle dit terselfdetyd ten bate van Solidariteit Helpende Hand. Die fliek wat vertoon word, is die nuwe aksieverwerking van die immergewilde The Lion King.

Vrouedag

Al die vroue word versoek om op 8 Augustus, die dag voor Vrouedag, hul onesie-pajamas aan te trek wanneer hulle die teaters besoek. Sodoende word Vrouedag op ʼn besondere manier met ʼn wêreldrekordpoging gevier. Almal wat die geleentheid bywoon maak ook ʼn verskil in ʼn kind se lewe.

Vroue word gevra om nie-bederfbare blikkieskos na die fliekaand saam te neem. Hierdie kos word geskenk aan Helpende Hand se #Stophonger-projek, wat etes verskaf aan minstens 8 000 behoeftige kinders by skole. Dikwels is dit enigste ete wat daardie kind per dag kry. Met Finesse se “Doen goed”-inisiatief word 10% van die kaartjieverkope ook aan Helpende Hand geskenk.

Teaters

Vroue kan reg oor die land inskakel by enige van die volgende vyf plekke: Pretoria (Kolonnade en Centurion), Oos-Rand (Carnival City), Vanderbijlpark (Vaal Mall), Bloemfontein (Mimosa Mall) asook in Kaapstad (Tygervallei). Al die teaters moet volgepak wees om die huidige rekord van 1 184 vroue te oortref.

In die voorportaal sal bekendes soos Mandi Baard, Lynette Beer, Dorette Potgieter, Quanita Adams, Anri Powell, Sue Pyler, Gretha Wiid, Izelle Hoffman en Lindi Delport die vroue verwelkom.

Daar word gepoog om 2000 mense by die aand uit te kry! Die huidige rekord is 1184.

Die fliekaand vind plaas op Donderdag 8 Augustus om 16:00 vir 17:00. Kaartjies kos R150 per persoon of R105 vir Finesse-vriendinne. Groepbesprekings kos R650 vir vyf mense.

Klik op voelgoed.co.za/kalender om kaartjies te bespreek.