Waardige vroue help om meisies in die skool te hou

Elke jaar woon duisende vrouens die Worthy Woman-konferensie wat deur bekende motiveringspreker, Gretha Wiid aangebied word, by. Konferensiegangers is gevra om sanitêreware saam te bring en duisende pakkies is ingesamel.

Vanjaar is daar besluit om sanitêreware vir Solidariteit Helpende Hand se #HelpHanna-projek in te samel. Die vrouens is gevra om barmhartigheid teenoor behoeftige tienermeisies te toon en ʼn pakkie sanitêreware vir ʼn behoeftige dogter saam te bring.

Daar is altesaam 3 654 doekies ingesamel en tot soveel as 1 000 meisies sal in 2018 gehelp kan word danksy die skenkings.

“Ons wil graag vir Gretha Wiid en almal wat die Worthy Woman-konferensie bygewoon het, bedank vir hulle ondersteuning met die #HelpHanna-projek,” het Lizelle Joubert, projekorganiseerder by Helpende Hand, gesê. “Mense besef dit nie, maar in baie huishoudings is sanitêreware ʼn luuksheid. Ons het ouers wat vertel dat hulle moet kies tussen brood en sanitêreware vir hulle dogters.”

Volgens ʼn studie deur Helpende Hand in 2015, het een uit elke tien meisies in Suid-Afrika nie genoeg sanitêreware om deur die maand te kom nie. Die meisies is ook te skaam om vir hulp te vra en bly dus vir tot vyf dae ʼn maand by die huis. Dit het tot gevolg dat meisies baie agter raak met hulle skoolwerk en tot 55 dae per jaar kan mis.

Hierdie probleem word sedertdien deur Helpende Hand se #HelpHanna-projek aangespreek. Duisende meisies baat by die projek en ontvang sanitêreware en ander toiletware by hulle onderskeie skole.

Skenkings is by die konferensie in die Kaap ingesamel, asook by die twee geleenthede in Pretoria. Die sanitêreware sal aangewend word om meisies in die plaaslike omgewing by te staan met vier pakkies per jaar.

Helpende Hand se 170 takke samel ook produkte in om die projek verder te ondersteun. Die terugvoer van skoolverteenwoordigers bevestig ook dat die projek ʼn groot gat vul en meisies se selfvertroue drasties verbeter.

Jy kan ook help om tot meisies se selfvertroue by te dra en om seker te maak hulle hoef nie skool te mis weens ʼn tekort aan sanitêreware nie. SMS die woord ‘helphanna’ na 38969 en skenk R10 tot ʼn Hanna-pakkie wat help om meisies in die skool te hou. ʼn SMS kos R10. Vir meer inligting oor die projek en hoe om betrokke te raak en ook by die projek te baat, besoek www.helphanna.co.za.