Waarskuwing: Slenters raak al slimmer
Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand: Phillip Bruwer
Solidariteit Helpende Hand waarsku die publiek om uiters waaksaam te wees vir slenters waarmee skelms hulself valslik voordoen as verteenwoordigers van betroubare instansies. Dit sluit welsynsorganisasies, banke, selfoonmaatskappye, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en selfs staatsinstansies in.
René Roux, hoof van kommunikasie en woordvoerder van Helpende Hand, sê met die opkoms van gevorderde tegnologie, insluitend kunsmatige intelligensie (KI), het slenters se metodes merkwaardig verfyn geraak – boonop in Afrikaans ook. Wat vroeër ‘n swak getikte e-pos was, is vandag ‘n geloofwaardige oproep, dokumente wat amptelik lyk of slim gegenereerde boodskap wat selfs ervare mense om die bos kan lei.
“Ons wil mense aanmoedig om gesonde agterdog te hê, veral wanneer iemand jou onverwags kontak en namens ‘n bekende instansie vra vir geld, persoonlike inligting of om vinnig op te tree om ‘n prys te wen,” sê sy.
“Of dit nou ‘n sogenaamde hulporganisasie is wat jou graag wil bystaan of iemand wat beweer hulle is van jou bank of die SAID en daar is ‘n prys of boete betrokke, gaan stel liewer eers ondersoek in.”
Wenke om jouself teen slenters te beskerm
· Moet nooit persoonlike of finansiële inligting oor die foon of per e-pos deel nie, tensy jy die instansie self geskakel het by ‘n amptelike nommer of webwerf.
· Moenie op skakels in e-posse of WhatsApps van onbekende afsenders af klik nie, selfs al lyk dit geloofwaardig.
· Gebruik slegs amptelike kommunikasiekanale. Besoek die webwerf van die betrokke organisasie of bel hul erkende kontaknommer; vreemde selfoonnommers word meestal vir slenters gebruik.
· Wees veral versigtig vir emosionele manipulasie. Slenters speel dikwels in op vrees, skuldgevoelens of dringendheid as jy ‘n prys wil wen. Moet ook nooit betaal om ‘n prys te wen nie.
“Vertrou jou instink as iets skielik, emosioneel gelaai of onwaarskynlik klink. Gaan sit, neem ‘n oomblik en ondersoek dit deeglik. Die beste verdediging teen slenters is kennis en waaksaamheid,” sê Roux.
Sy sê as ‘n mens ooit twyfel oor enige kontak wat jy ontvang, maak nie saak wie hulle sê hulle is nie, skakel die instansie self en vra. Dit is altyd veiliger om seker te maak as om spyt te wees.
“Helpende Hand bly verbind tot die beskerming en bemagtiging van ons gemeenskappe, nie net teen armoede nie, maar ook teen diegene wat hul kwesbaarheid wil uitbuit,” sê Roux.