Wat dink jy veroorsaak moedeloosheid? Vergun my om enkele moontlikhede uit te lig.
- Werkloosheid laat ‘n mens wanhopig voel. Dit verminder jou selfvertroue en kan lei tot onttrekking aan die gemeenskap.
- Werknemers wat lang ure met min vergoeding werk, kan ‘n gebrek aan kwaliteittyd vir hulle gesin hê. Dit kan lei tot uitbranding en depressie.
- As jy jou geloofslewe weens werksdruk of finansiële druk afskeep, vererger stres.
Daar is nog baie ander redes. Dit kan veroorsaak dat mense nie by hul medemens wil of kan betrokke wees nie en dus nie diensbaar is nie.
Mattheus 7:12 [AFR83] beskryf diensbaarheid so mooi: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
Hoe kan ‘n gemeenskap diensbaar raak?
Ek glo dit begin by ons eie ingesteldheid. Dit kan gedryf word deur geloof, ‘n empatiese persoonlikheid of as jy daarvan hou om goeie dade te doen. Hoe lekker en vervuld voel jy nie as jy iets betekenisvol vir iemand doen nie! Ek daag jou uit om daardie kennis of vriend in die hospitaal te gaan besoek, jou weduwee-buurvrou met ‘n plantjie of bossie blomme te verras, of ‘n lang vergete vriend uit die bloute te bel.
Natuurlik begin diensbaarheid allereers in jou eie huis.
Is jy vriendelik met jou gesin?
Luister jy aandagtig wanneer hulle praat?
Doen jy aan hulle wat jy aan jouself gedoen wil hê?
Kom ons raak stil en doen introspeksie.
Wil jy graag in isolasie voortploeter en ‘n doellose lewe voer?
Ek daag jou uit: Beweeg uit jou gemaksone en geniet ‘n vervulde, betekenisvolle lewe!