Want liefdadigheid verlig – ‘n Ware Helpende Hand verhaal

Janice tel die swaar pot op en sit dit op die stoof.  Ingedagte kyk sy af na die swart steenkoolstreep op haar hand voor sy moed skep en antwoord: “Die kos is op die stoof my liefie… word nou rustig, julle gaan amper eet!”

Vandag is dag drie –  die derde dag wat sy al hiermee voortgaan. Elke aand kook sy net water en wag… Sy wag sodat die donker toesak en die moegheid van ‘gewag’ die kinders se honger een vir een kom stil. Daar waar hulle wegsluimer, is hulle in elkgeval rustiger. Rustiger as wanneer hulle wag. Wag vir kos.

As al die kinders slaap, neem *Janice die pot van die stoof af en loop na buite. “Gelukkig word dit nou somer… dankie tog!,” dink sy terwyl sy die water uit die pot terug in ‘n kan gooi. Sy kyk op boonte en in die rustigheid van die aandlug tref die seer gevoel van magteloosheid haar weer.

“Hoe het ons hier beland?”… Verlede week het sy vir die kinders vertel al die meubels is verkoop, want hulle gaan binnekort oorsee verhuis. Daardie opgewondenheid op hul gesiggies het haar hart gebreek! Sy dink nou nog aan hoe *Susan vir haar juffrou by die skool vertel het hulle is besig om “oorsee te trek”, hulle gaan binnekort in die “sneeu” bly.

Die afgelope maande was nie maklik nie. Sy weet nie meer hoe lank sy hiermee gaan kan volhou en hoe lank sy nog die kinders uit hierdie gemors kan hou nie. Hoeveel aande moet hulle nog honger gaan slaap? Al wat sy weet is dat sy nie hulle hoop kan breek nie. Hierdie is tydelik, êrens sal ‘n uitkoms kom. Maar daardie klein kindertjies se hoop in die lewe mag nie gebreek word nie. Hulle moet die goeie in die lewe bly sien… Sy moet sterk staan vir hulle. Hoe dan anders?

Vandag is Internasionale Liefdadigheidsdag. In ons werk as liefdadigheidsorganisasie hoor ons daagliks van verhale wat ons elke aand dankbaar na ons warm huise laat keer. Ons het soveel om voor dankbaar te wees en ‘n bord warm kos is werklik ‘n seëning van bo! Elke verhaal is vir ons ‘n bevestiging hiervan. Die bogenoemde verhaal is slegs een van die verhale van hoop, waarvan ons van kan getuig.

Mense vra dikwels “waarom liefdadigheid”. In ons daaglikse take kan ons nie sien waarom ons dit nie moet doen nie. Een kind wat die geskenk van hoop vir ‘n beter toekoms vandag ontvang, kan hoop vir ‘n hele generasie vorentoe gee. Danksy projekte soos #Stophonger, kon ons daardie kinders se “wag” verlig. Ons kon hul weer met ‘n vol magie laat slaap.