Wat hou die toekoms vir Afrikaanse skoliere in?

In vandag se tyd is skool nie meer soos dit in die verlede was nie. Kinders word reeds van vroeg af deur ’n menigte uitdagings gekonfronteer wat volwassenes maar net van kan droom. Die behoefte aan ’n nuwe manier van skoolgaan is groter as ooit.

Om aan die ewig-veranderende behoeftes te voldoen het Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) met die Wolkskool vorendag gekom.

Die doel van die Wolkskool is om kinders so vêr moontlik te ondersteun met hulle skoolloopbaan. Die Wolkskool is ’n aanlyn platform wat aan Helpende Hand-ondersteuners toegang gee tot opvoedkunde video’s wat 24-uur per dag beskikbaar is.

Die Wolkskool bied video’s oor spesifieke onderwerpe vir Graad 4 – 12 leerders in Wiskunde, Graad 8 – 12 Afrikaans en Rekeningkunde vir Matrieks. Daar is ook ’n spesiale aanlynwinkel op die webwerf beskikbaar, waar werkkaarte, vraestelle met memorandums en ander hulpmiddels teen ’n fraksie van die prys verkoop word.

En as dit nie genoeg is om jou te oortuig nie, kry kinders nou ook toegang tot ’n wiskunde-kenner wat hulle 24-uur ’n dag kan bystaan met moeilike vrae.

Die gebruik van video’s as onderrigmodel is nou al herhaaldelik bewys om baie voordele in te hou. Nie net bly kinders langer gefokus nie, maar hulle onthou ook die feite baie beter. Party studies dui daarop dat kinders tussen drie en vyf keer beter leer met behulp van video’s as wanneer hulle normaalweg studeer.

Volgens Anita Lourens, projekorganiseerder by Helpende Hand, kan ’n uurlange-video gekyk word wat deur van die land se beste onderwysers saamgestel is. “Ons wil dit graag moontlik maak vir enigiemand om die beste gehalte Afrikaanse video’s te kyk,” sê Lourens. “Helpende Hand-ondersteuners kry gratis toegang tot die Ons Skool-kanaal en mense wat nog nie Helpende Hand-ondersteuners is nie, kan aansluit vir R50 of meer per maand.

Om toegang tot die Wolkskool te kry, SMS die woord “WOLK” na 39950 en sluit aan as ’n Helpende Hand-ondersteuner. SMS kos R2. Besoek gerus www.wolkskool.co.za om self te kyk hoe die sisteem werk.