Trots geborg deur:

SING, HOOP, WEERKLINK mediavennoot

Solidariteit Helpende Hand bied met trots ons eerste SING, HOOP, WEERKLINK-konsert, ten bate van persone met gestremdhede, aan. “As ek kan, kan jy ook” – ‘n boodskap van gestremdes Hierdie konsert is eie in sy soort en beloof om ʼn wonderlike geleentheid vir die publiek te wees. Dit word op 30 November 2021 by die Voortrekkermonument (Buitelug langs die voortrekkersaal) in Pretoria aangebied.

Die Solidariteit Helpende Hand-familie glo daarin om deur maatskaplikgebaseerde gemeenskapsontwikkeling na die holistiese welstand van ons mense om te sien. Dit word moontlik gemaak deur sterk strukture wat volhoubare projekte en oplossings aan ons kleuters, gesinne, bejaardes en persone met gestremdhede bied.

Hierdie konsert is ʼn hoopsaaikonsert; dis ʼn simboliese tree van hoop wat persone met gestremdhede vat en hardop sê: “SING, HOOP, WEERKLINK – as ek kan, kan jy”. Kom ons saai hoop.

Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Mathys Roets, Ricus Nel en Vernon Barnard gaan by die geleentheid optree. ʼn Paralimpiese atleet gaan ook ʼn getuienis en boodskap van hoop deel. Solidariteit Helpende Hand sal by die geleentheid Drihan du Plessis se lied “SING, HOOP, WEERKLINK” bekendstel.

Kunstenaars:

Kunstenaars-01

Demi Lee Moore

Kunstenaars-02

Drihan du Plessis

Kunstenaars-03

Mathys Roets

Kunstenaars-04

Ricus Nel

Kunstenaars-05

Vernon Barnard

Op 9 Julie 2021 droom ek dat ek in ʼn kerk sit. Langs my staan en sing die jongste van my pa se vyf broers, oom Marthinus, die volgende: “Groen vars gras, hier staan ons alleen”.

Die droom voel so werklik soos ʼn oggend bries. Ek kyk rond in die kerk en soek die res van die mense uit my jeugjare. Almal sit daar. Waar is my nefies se pa, oom Herman, wonder ek … My ore en oë soek rond tussen mense wat vreugdevol sing, uit volle bors, sonder kommer. My siel word gelei na die preekstoel waar oom Herman sing …

“Dan sal ons hoor hoe Loftus Versfeld weerklink …”, sing hy vreugdevol en uit volle bors.

Ek skrik wakker en besef dit was ʼn droom. Die horlosie sê 05:00. Die waarheid van die beeld wil ek nie erken nie. My oom was op daardie stadium, nes baie mense in ons land, in die hospitaal weens covid-19. Ons het hoopvol gebly. Ek het weer aan die slaap geraak, in ʼn waan, in ʼn droom. 

Om 07:30 bel my ma my wakker … Oom Herman is daardie oggend om 04:45 oorlede … 

My hart het gebreek vir elkeen wat ek in daardie kerk in my droom gesien het. 

Die toeval het my vir ʼn uur lank onkant gevang … Het God opsetlik die droom na my kant toe gestuur, of was dit dalk oom Herman self …? Dit kan seker ook my onderbewuste wees wat deur die nag met die moontlikheid van my oom se afsterwe geworstel het. Jy mag glo wat jy wil, ek mag glo wat ek wil … Wat ons doen met die goed wat ons glo, is ʼn ander saak. Wat ék wil glo, is dat die droom aan my gestuur was met ʼn groter doel. 

Ek het opgestaan en besluit ek moet iets doen. Ja, daar is ʼn tyd vir treur, en ons moet hartseer wees, maar soveel mense in ons land was die afgelope tyd al aangeraak. Soveel mense sukkel om weer ná ʼn terugslag aan te pas. Wat kan ék doen om hulle te help besef dat hulle weer sal opstaan? het ek gewonder. Ek het opgestaan en gedoen wat ek weet ek goed kan doen: musiek skryf. 

Ek het my hart op papier en in melodie uitgestort, nie in die vorm van ʼn treurmare nie, maar in die vorm van ʼn hooplied.

Ek het gesing, gesing dat dit weerklink. Soos in daardie droom, vreugdevol. Ek het geskryf en geskryf, gesing, gehoop. Die beelde én simbale én trompette het in my kop soos ʼn duisend engele weerklink. Ek het gehoop, gesing, geweet die woorde sal êrens weerklink. 

Toe ek die lied klaar geskryf het, het ek eers ʼn vriend gebel en my verlies en vreemde blydskap met hom gedeel. Daarna het iets my gely om meer te doen. Die boodskap moes net vlerke kry. Ons mense het genoeg gely. Genoeg keer geval en weer opgestaan. Genoeg keer vergeet dat ons weet hoe om op te staan. Ek het besluit om vir Helpende hand te bel … Ek het my droom aan die uitvoerende direkteur, Hannes Noëth, verduidelik. Twee weke later het ons in ʼn kantoor gesit en saam besluit: Ons moet die hoop verpak en aan ons mense bring. Ons het besef dat opstaan en aanpas ná verlies vir baie mense baie moeilik is. Ons het ook besef dat ek, as ʼn persoon met ʼn gestremdheid, geleer het om vinniger aan te pas, want mense met gestremdhede, hetsy van geboorte of weens ʼn gebeurtenis, móét leer om aan te pas.

Dit is waarom ons die SING, HOOP, WEERKLINK-konsert so verpak het dat almal wat met verlies worstel, kan besef dat dit moontlik is om weer op te staan en aan te gaan. Jy sal weer kan sing, jy sal aanpas, jy sal weer kan hoop, jy sal self die boodskap weerklink.

Ek dra hierdie lied op aan die mense wat my oom Hermanus Nicholaas van Rooyen in liefde agter gelaat het. My verhaal is helaas nie uniek nie; ek weet daar is baie mense daar buite met dieselfde lot.

Ek dra die lied aan alle covid-19-slagoffers op.

Kom ons sing dat die hoop weerklink!

“SING, HOOP, WEERKLINK”-lirieke

Groen vars gras, alleen hier staan ek,

heilig stil, ons bymekaarkomplek,

die trom en trompet, het dit lanklaas gehoor,

ʼn klank uit die hemele, ʼn engelekoor.

 

Ons gedenk die helde.

Ek weet hul staan hier tussen ons.

Die oues van dae weet, helde val vroeg soms.

 

Sal jou eendag daar vind.

Sal jou mense saambring.

Sal ons kinders grootmaak, soos wat jy goed sou dink.

As ons daar kom, sal ons instap, jou en almal daar vind.

Daar sal legendes sing, hoop, weerklink.

ʼn Leeftyd vol trots, klein kinders en nog.

Ek weet jy sal kyk, ek sien jou glimlag skyn.

Jou lig sal ons dra, jou woorde laat hoor.

ʼn Klank uit die hemele, ʼn engelekoor.

 

Daar sal legendes sing in engelekoor.

 

Daar sal legendes sing, hoop, weerklink.

Daar sal legendes sing in engelekoor.