Wie is Solidariteit Helpende Hand

Ons visie is om oplossings vir die aanspreek Afrikaner-armoede te vind.

Wie is ons?

Solidariteit Helpende Hand is ’n welsynsorganisasie geskoei op die beginsels van die Helpmekaar-beweging van 1949. Ons fokus is om ʼn antwoord op die Afrikaner-armoedekrisis te vind deur ʼn verskeidenheid van projekte. Ons doen dit deur ons mense se armoede deur middel van onderskeie projekte te verlig, voorkom en te verbreek.

Nagenoeg 80% van ons tyd en bronne word aan die voorkoming van armoede bestee, terwyl die ander 20% tussen die verligting van armoede en die verbreking van die armoedekringloop verdeel word.

Verligting van armoede deur projekte

Helpende Hand het ʼn verskeidenheid van projekte wat daarop gemik is om die swaarkry van behoeftige mense te verlig. Dié projekte sluit die Kosblikkie-, Skooltassie- en #HelpHanna-projek in.  Kinders word veral gehelp deur hierdie projekte, deur hulle te voorsien met ʼn daaglikse bord kos, skryfbehoeftes en sanitêre ware.

Die #geeREG- en Ons Mense-veldtogte fokus veral op volhoubare oplossings vir Afrikaners wat in informele nedersettings en ander moeilike omstandighede woon.

Helpende Hand se bejaarde-projekte wil ʼn einde maak aan die eensaamheid en armoede waarin baie van ons land se bejaardes leef.

Verder het Helpende Hand meer as 170 takke landwyd wat ons hande en voete in die gemeenskap is. Hierdie takke bestaan uit vrywilligers wat die nood van Afrikaners in hulle gemeenskappe identifiseer en dit dan binne die raamwerk van Helpende Hand aanspreek.

Voorkoming van armoede deur opleiding

Een van Helpende Hand se grootste fokusse is die opleiding van ons kinders en jongmense om daardeur te keer dat hulle in die kringloop van armoede beland.

Die Skoleondersteuningsentrum is gerig op die versterking van Afrikaanse onderwys op alle fronte. Vakverenigings vir Wiskunde-, Afrikaans-, Rekeningkunde- en Grondslagfaseonderwysers bied professionele ondersteuning aan onderwysers.

Die Studiefondssentrum bied rentevrye studielenings aan jongmense vir tersiêre studies. Tot op hede is daar al 6 981 studente met ʼn totaal van R126 miljoen gehelp.

Verbreking van armoede deur werkskepping

Helpende Hand wil seker maak dat elke Afrikaner wat wíl werk, ’n werk het om hulleself en hul geliefdes te onderhou. WerkNet is ʼn eenvoudige, gebruikersvriendelike webblad waar  werksoekendes hulle CV’s kan oplaai en werkgewers poste kan adverteer.

Talentwerf is ʼn platform vir vryskutwerkers om hulle dienste te adverteer vir besighede wat opsoek is na ʼn talentvolle werker op kontrakbasis.

Waar kom ons geld vandaan?

Helpende Hand het meer as 30 000 ondersteuners wat per debietorder ʼn maandelikse bydrae maak. Ons ontvang geen hulp van die staat nie en is afhanklik van die bydraes van gewone mense om ons projekte te befonds.

Solidariteit Helpende Hand vakansievoordeel

Santana
blok2
blok1

Lees meer oor die vakansievoordeel

Kry 20% afslag op jou volgende vakansie

Om dankie te sê vir die lojale steun wat u as ondersteuner aan Solidariteit Helpende Hand bied, kwalifiseer u vir 20%-afslag op alle akkommodasie by Kokoriba Wildreservaat, Aan de Vliet vakansie-oord of Santana vakansie-oord. Desember se skoolvakansie en Paasnaweek uitgesluit.

Kokoriba
Kokoriba is in die hartjie van die Bosveld geleë. Dis ʼn bekostigbare vakansiebestemming, ideaal vir mense wat van tradisionele gesinsvakansies, die natuur en die buitelewe hou. ʼn Verskeidenheid netjies gemeubileerde en lugversorgde selfsorg-eenhede, wat tussen twee en ses mense kan huisves, is beskikbaar.

Die oord het ook ʼn woonwapark met vyf goed toegeruste ablusieblokke. Die staanplekke is gedeeltelik met gras en hoofsaaklik met bosveldgruis bedek. Die staanplekke het water- en kragpunte en draagbare braaiers kan by die oordkantoor bespreek word. Vir bekostigbare groepsfunksies is daar die Makoro-basis wat bestaan uit ʼn gebou met tweebed- en driebedkamers en ander basiese geriewe. Die eenheid het sy eie lapa aan die buitekant en is vir toegerus om 32 mense te kan akkommodeer. Buite-ablusiegeriewe is ook beskikbaar. Die kamp is elektries omhein, wat besoekers gemoedsrus kan gee. Vir meer besonderhede besoek www.kokoriba.co.za/.

Aan de Vliet
Die oord is in die hart van die skilderagtige Panorama-roete in Mpumalanga geleë. Daar is talle bekende toeriste-aantreklikhede binne 60 km vanaf Aan de Vliet, wat aan besoekers die geleentheid bied om hierdie wonders te besoek en betyds “tuis” te wees om te ontspan en die dag met ʼn tradisionele braai by hul akkommodasie-eenheid af te sluit. Elke eenheid beskik oor ʼn volledig toegeruste kombuis met lugversorging en ʼn badkamer met ʼn stort.

Dit is die ideale vertrekpunt waarvandaan besoeke aan baie skilderagtige, kulturele en historiese bestemmings beplan kan word. Die oord bied ook geleentheid vir pieknieks langs die Sabie-rivier of die swembad. Vir meer besonderhede besoek www.aandevliet.co.za.

Santana
Kom ontspan op die strand by Santana vakansie-oord in Margate! Santana is op die strand in die middel van die Margate Golden Mile geleë. Hulle bied pragtige, ruim twee- en drieslaapkamer-eenhede. Elke eenheid beskik oor twee badkamers, pragtige woon- en eet areas asook die nuutste toegeruste kombuise.

Hulle goed onderhoude tuine lei direk op die strand uit en ʼn kort stappie langs die strand sal u direk na die Margate-hoofstrand neem. Santana het veilige parkering vir motors asook ʼn restaurant, en ʼn haar- en skoonheidsalon. ʼn Pragtige swembad is ook tot besoekers se beskikking. Besoek gerus www.santana.co.za vir meer inligting.

Wat behels die voordeel?
Alle aktiewe ondersteuners van die Solidariteit Beweging kwalifiseer vir 20%-afslag by Kokoriba Wildreservaat, Aan de vliet-oord of Santana vakansie-oord. Lidmaatskap sal geverifieër word voordat die afslag toegestaan word. Die ondersteuner moet self by die oord wees gedurende die tydperk waarvoor hulle ʼn bespreking gemaak het en moet hulle lidmaatskapkaart of identiteitsdokument aan die oord se ontvangspersoneel toon. Die afslag geld slegs vir een eenheid per gesin. Ten minste een lid van die gesin moet ʼn lid of ondersteuner van een van die Solidariteit Beweging se lede-instellings wees.