Wil om te Help

Kersvader kom Ventersdorp toe ook
Dis mooi … Dis rooi … Dis Kersfees! Wie sou nou kon raai Kersvader besoek die platteland met lande vol jong mielies en trekkers ook met sy takbokke?
Hierdie is ‘n storie … ‘n Klewerige storie oor kougom, ‘n skooltas en Kersvader. Wat het hierdie drie goed in geneem? Een ding: Dit is *Pieter (skuilnaam), ‘n sesjarige seuntjie van Ventersdorp wat op pad is graad een toe, se briefie aan Kersvader.
Op ‘n wit, gekreukelde papier het *Pieter sy wens en hartsbegeerte vir Kersvader neergeskryf:
“Kersvader, ek was soet, baie soet. Ek wil graag kougom en ‘n skooltas hê vir Kersfees.”
*Pieter gee nogal motiverende redes ook. Hy vertel oortuigend dat sy juffrou sê kougom is goed, want dit hou die mond (hopelik) toe, die kake besig en help om te konsentreer in die klas. En wat juffrou sê, is natuurlik wet en ons mag nie daarteen stry nie! Verder gee hy voorskrifte dat die kougom in die skooltas in die eerste rakkie geplaas moet word, sodat hy dit vinnig en maklik kan bekom tydens skooltyd.
Eers het ek begin giggel en later ‘n bietjie herkou aan hierdie storie. Kou… Gom … Skool … Tas… Die storie kom plak op my maatskaplikewerkershart. Ek dink terug aan wat my ouma altyd vir ons as kinders gepreek het: “As jy kougom insluk, gaan jou derms knoop.” Dit was dalk ‘n ouvroustorie, maar *Pieter se storie is een van hoop, rou emosie, kinderlike opregtheid, geborgenheid en pure onskuld.
Raai wat? Kersvader kom … selfs Ventersdorp toe! Hierdie jaar kry Solidariteit Helpende Hand die geleentheid om Kersvader te speel met die nasionale Skooltassie-projek – ons maak kinders soos *Pieter se opregte wens waar met ‘n skooltas en kougom.
Die klewerige waarheid is … Soms moet ons ook soos *Pieter vir die eenvoudige dinge in die lewe vra en dit waardeer. Goed wat ons help om te konsentreer en te fokus op dit wat belangrik is in die lewe. Iets wat op ons harte kan kom plak en daar bly, sodat ons vasgeplak vasstaan en geanker is waar ons moet wees as die storms van die lewe kom.
En dit is die klewerige waarheid …
*Pieter (skuilnaam)
Marna Swanepoel Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand: Noordwes-streek