Wilko van Ymuiden |Vergeet my nie- VERHAAL 1

Gedurende 1942 is dit die Tweede Wêreldoorlog en dit gaan rof in Europa.

Wilko en Naomi Smith in hul Helpende Hand ondersteuners-hemde

 

In Holland, Ymuiden, woon ‘n gesin met drie kinders, die jongste seuntjie is 5 jaar oud.  As die bomwerpers met oorverdowende geraas oor die dorpie vlieg, weet Ouboet hy moet sy boetie beskerm.   Hy leer hom om op ‘n matjie te gaan lê, rol hom dan toe in die mat en sleep hom dan tot onder die bed.  Later is hierdie seuntjie so oulik, as hulle die bomwerpers hoor, gaan lê hy self op die mat met sy armpies in die lug.  Hierdie seuntjie se naam was Wilko.

 

Na die oorlog was Holland plat geskiet – geen werk, geen kos, geen vooruitsigte.  Wilko se ouers besluit om na Suid-Afrika te emigreer.  Op sy oudag kon Wilko nog in detail vertel toe die boot in Kaapstad-hawe anker en hy Tafelberg sien.  Onthou, in Holland is geen berge nie!

 

Hulle vind ‘n heenkome in Vanderbijlpark by Yskor.  Soos talle Hollanders wat geëmigreer het, was Oupa Allie ook ‘n uitstekende vakman.  Hierdie seuntjie, Wilko, kry later ‘n beurs by Yskor en gaan universiteit toe.

 

Daar kom ‘n  verskrikte meisie uit die destydse Suidwes ook by Tukkies aan.  Eintlik groot geword in die Caprivi op die wal van die Okavango-rivier.  Teensinnig word die eerstejaars gedwing om die ingenieurpiekniek te gaan bywoon.  Op ‘n manier kruis my pad daar met hierdie mooie man met die breë glimlag en weglêkuif.  Ons was onmiddellik onafskeidbaar.  (Mense, is die Here se weë nie wonderlik nie?  Om twee mense op so ‘n wonderbaarlike manier vanuit twee verskillende kontinente by mekaar uit te bring!)

 

Die laaste 12 jaar van ons 52 jaar getroude lewe kom bly ons in Pretoria om naby die kinders en kleinkinders te wees – dis nou vier kinders en tien kleinkinders later.

 

Oupa Wilko besluit die vyf kleinkinders in Pretoria gaan nie na ‘n naskoolsentrum toe nie, ons moet hulle smiddae na skool oppas.  Oupa help veral met Wiskunde en Wetenskap, kyk tennis- en krieketwedstryde, ry hulle rond van een aktiwiteit na die volgende en help graag met take.  Seuntjies is uit die aard van hul natuur nie altyd so pligsgetrou nie.  Hulle begin saam aan ‘n taak, maar later maak Oupa maar klaar.  Later sal Oupa vra “Christian, wat sê Meneer, hoeveel kry ek vir my taak?”  Dan lag was groot pret, dan kry hulle worsbroodjies, maar elkeen braai sy eie worsie.

 

Saam met die kleinkinders was Helpende Hand Wilko se ander passie.  Die werksaamhede en hoe die organisasie in die praktyk werk, het hom geweldig beїndruk.  Gewoonlik het baie gesprekke met vriende en kennisse dan ook op Helpende Hand se werksaamhede uitgeloop.  Alhoewel hy nooit ooit gevra het vir donasies nie, het baie mense hul harte oopgemaak vir ons organisasie en mildelik bygedra.

 

Dankie dat ek hierdie storie met julle kon deel.  Die skryf hiervan het my ook gehelp om my seer te verwerk in hierdie groot verlies op my pad vorentoe.

Naomi Smit as wenner van die #NuweBegin kompetisie deur Solidariteit Helpende Hand se Hoopdraers Tak

Wilko en Naomi Smit saam hul pragtige familie