Wiskunde-hulp vir jou kinders nou aanlyn!

Wiskunde is ’n nagmerrie vir baie kinders (en soms ook vir die ouers). Moedelose leerders sit soms laat aande nog voor die boeke, terwyl ouers probeer help en verduidelik. Swak eksamenuitslae dryf kinders om eerder Wiskunde as vak af te skryf. Maar Wiskunde is noodsaaklik vir talle skaarsvaardigheid beroepe, en kenners meen dat kinders soms te vinnig moed opgee.

“Wiskunde-kennis bou op mekaar en soms is dit slegs een probleem of afdeling waarmee ’n kind sukkel. Partykeer moet ’n kind net ’n ander verduideliking sien om iets beter te verstaan,” so meen Valentyn van der Merwe, Wiskunde-spesialis van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde (V.A.W.). Die V.AW meen dat ekstra Wiskundeklasse nie net help om sekere onderwerpe onder die knie te kry nie, maar kan ook kinders se punte drasties opskuif. “Een onderwerp verhoed ’n kind soms om van ’n B na ‘n A te skuif. Hoe beter ’n leerder verstaan, hoe beter sal hy presteer,” meen Van der Merwe.

Ekstra Wiskundeklasse is ’n uitstekende belegging, maar deesdae betaal ouers deur hulle ore om kinders ekstra klasse te laat loop of om tyd te kry in kinders se besige skedule vir die klasse.

Solidariteit Helpende Hand se Ekstra Wiskunde inisiatief bied nou ’n oplossing vir hierdie probleem. Helpende Hand besef die belangrikheid van Wiskunde en die deure wat dit vir kinders kan oopmaak in die kompeterende wêreld van werk. Dit is hoekom die organisasie nou vir hul ondersteuners toegang tot weeklikse aanlyn ekstra Wiskundeklasse van wêreldgehalte bied vir so min as R50 ’n maand.* ’n Aanlynklas beteken dat kinders dit op hulle eie tyd in hulle eie kamer kan benut.

Vir slegs R50 ’n maand kan kinders van graad 4 tot 12 ekstra Wiskundeklasse ontvang en ander voordele:

  • Toegang tot die Ekstra Wiskunde-webwerf waar klasse van graad 4 tot graad 12 gesien kan word; toegang tot Akademia se 11 landwye sentrums waar graad 12-klasse regstreeks gekyk kan word.
  • Lede se kinders het ook toegang tot ’n Wiskunde-spesialis vir vrae en antwoorde. Die Wiskunde-boffin sal jou met moeilike probleme kan help.*
  • Gratis Wiskunde-winterskool vir graad 12-leerders van 12-14 Julie 2017 wat regstreeks via Akademia se platform na 11 landwye sentrums uitgesaai word. Spasie is beperk, so registreer vroegtydig.

Deur hierdie voordeel te kry vir so min as R50 ’n maand, dra jy ook by tot projekte wat duisende behoeftige kinders ondersteun. Wiskunde vir jou en jou kinders EN hulp vir talle ander!

Vir meer inligting oor die klasse en om deel te kry aan die voordeel besoek: www.wolkskool.co.za of SMS die woord “Wiskunde” na 39950 (slegs R2) en ons skakel jou.

** Bepalings en Voorwaardes geld