Kosblikkieprojek 2013 open vir aansoeke:
Helpende Hand se Kosblikkieprojek het onlangs geopen vir aansoeke en takke het tot 19 April 2013 om behoeftige kleuterskole in hulle gemeenskap te nomineer vir die projek. Die volledige kriteria en aansoekvorms is by Helpende Hand se Streeksorganiseerders beskikbaar of kontak gerus vir lindie@helpendehand.co.za
Laai die Kriteria vir Kosblikkieprojek 2013 hier af
Meer oor Kosblikkie:
Soveel behoeftige kleuters sal weens fisieke, emosionele en geestelike verwaarlosing nie optimaal ontwikkel nie en gevolglik hulle formele onderrig reeds met ʼn agterstand begin.
Om dié rede het Helpende Hand in 2009 die Kosblikkieprojek geloods om die groeiende nood onder behoeftige kleuters en kleuterskole te verlig. Die projek het intussen gegroei tot ’n omvattende oplossing vir die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika.
Die ontwikkelingsuitdagings tydens die vroeë kinderjare word voorkomend aangespreek deur ondersteuning te bied ten opsigte van:
1. Kleuters se voeding;
2. opvoedkundige speelgoed;
3. ouerleiding en indiensopleiding van versorgers by kleuterskole;
4. opvoedkundige materiaal vir skole;
5. intellektuele stimulasie: MiniChess;
6. geestelike ontwikkeling: Bybelgenootskap-geletterdheidsboekie
Wie baat by die projek?
Kleuterskole word deur Helpende Hand se vrywilliger-takke genomineer en moet aan basiese kriteria voldoen om te kwalifiseer vir die Kosblikkieprojek.
Ongeveer 3 200 kleuters en 2 000 versorgers in 41 kleuterskole oor die hele Suid-Afrika is in 2012 suksesvol deur 21 Helpende Hand vrywilliger-takke bedien ten opsigte van die projekdoelwitte.

| Gauteng-Suid | 14 skole | 990 kinders |
| Gauteng-Noord | 9 skole | 668 kinders |
| Noordwes | 4 skole | 500 kinders |
| Oos-Kaap | 5 skole | 492 kinders |
| Vrystaat | 3 skole | 279 kinders |
| Mpumalanga | 2 skole | 122 kinders |
| Limpopo | 2 skole | 95 kinders |
| Noord-Kaap | 1 skool | 64 kinders |
| Suid-Kaap | 1 skool | 22 kinders |
Die ontwikkelingsuitdagings tydens die vroeë kinderjare word voorkomend aangespreek deur ondersteuning te bied ten opsigte van:
Voedingskemas
Die Vereniging vir Voorskoolse Opvoeding en Sorg (VVOS) het ’n randrekker-spyskaart en inkopielys opgestel as ’n riglyn vir die skole. In 2012 het die takke elke maand ʼn SPAR-kaart ontvang waarmee kruideniersware vir die skole aangekoop is.
Read in English
Opvoedkundige speelgoed
Die Kosblikkieprojek bied ʼn kreatiewe platform vir skole, kerke, besighede en organisasies om betrokke te raak by plaaslike skole en kleuterskole deur onder andere opvoedkundige speelgoed en Afrikaanse leesboekies vir hulle in te samel.
Elkeen van die 40 skole wat deel uitgemaak het van die Kosblikkieprojek in 2012 het ’n krat propvol opvoedkundige speelgoed ontvang. Dit het materiaal vir kuns en handwerk, opvoedkundige en fantasiespel, materiaal oor lewensvaardighede en wiskundige vermoë, legkaarte en Afrikaanse leesboekies bevat.
Dankiebriewe
Laerskool Tjaart van der Walt – Port Elizabeth
Langs hierdie weg ’n baie groot dankie vir die krat vol pragtige opvoedkundige speelgoed wat so onverwags hier by die skool aangekom het. Ons is oneindig dankbaar dat ons ingesluit is by julle Kosblikkieprojek en ons gee die versekering dat alles wat ons ontvang tot voordeel van die kleuters in ons skool gebruik sal word. Dra asseblief ons dank en waardering oor aan almal wat by hierdie projek betrokke is – van die donateurs tot die verpakkers. Julle ondersteuning is vir ons goud werd.
Tjaart-groete
Laerskool Witfield – Boksburg
E du Toit
Skoolhoof
Met hierdie skrywe wil ons u net hartlik bedank vir die opvoedkundige speelgoed wat u aan ons graad 00- en graad R-klas geskenk het. Die kleuters was baie opgewonde oor die nuwe speelgoed. Wees verseker dit word opreg waardeer.
Groete
Personeel en kleuters
Laerskool Generaal De la Rey – Johannesburg
Die beheerliggaam, personeel en leerlinge wil graag hul opregte dank betuig vir die borgskap van opvoedkundige speelgoed wat ons vanaf Helpende Hand ontvang het vir ons graad R-leerlinge.
Wees verseker dat hierdie onbaatsugtige diens opreg waardeer word en dat Helpende Hand beslis ’n verskil in elke kind se lewe maak. Mag God u ryklik seën vir dié wonderlike werk!
Dellie-groete
PJ Badenhorst
Skoolhoof
Read in English
Indiensopleiding en ouerleiding
Indiensopleiding en ouerleiding word in samewerking met Immergroen Ouerskap aangebied
Die behoeftige kleuter word van twee kante af bereik deur sy ouer en versorger of juffrou te bemagtig met praktiese opleiding ten opsigte van gesonde gesag, kleuters se verskillende temperamente, karakterontwikkeling en kreatiewe dissipline.
Die Kosblikkieprojek het in 2012 begin in samewerking met die ouerskapkenner, Hettie Brittz, en haar span Immergroen Ouerskap-fasiliteerders, wat 2 000 versorgers oor Suid-Afrika heen oplei.
Elke kursusganger het ’n werkboek ontvang en na afloop van die kursus ’n sertifikaat.
Read in English
Opvoedkundige materiaal vir kleuterskole
In 2012 het elk van die 40 kleuterskole die volgende Immergroen opvoedkundige materiaal ontvang.
DVD’s van Immergroen Ouerskap
Kreatiewe dissipline vir ouers
Kreatiewe dissipline vir ouers en opvoeders
Drie dubbel CD-stelle van Immergroen Ouerskap
Kleuterdissipline
Twee Dissiplinemonsters
Kweek gehoorsame, verantwoordelike kinders
Vier temperament- en vier gedragplakkate
Karakterkransplakkaat
Produkte vir praktiese dissipline
Vier “Ek is die baas”-borsspelde
Vier Sori-sakkies
Twee Sambreelreëls
DVD: Praktiese antwoorde op algemene vrae oor ouerskap
Read in English
Intellektuele stimulasie: MiniChess
In 2013 word die Kosblikkieprojek uitgebrei met die MiniChess opvoedkundige program. Die program het ʼn holistiese benadering waarin die opleiding van die onderwysers, die werkskeppingskomponent en die speletjies op die skaakbord ewe belangrik is en ewe veel bydra tot die sukses daarvan. Die program, gemik op die grondslagfase (graad R tot graad 3), lê ʼn kardinale fondament vir die ontwikkeling van ʼn kind se syfervaardighede en wiskundige vermoëns, strategiese- en kreatiewe denke asook ander belangrike lees- en lewensvaardighede. Die program sal geïmplementeer word onder graad R-kinders wat deel vorm van die Kosblikkieprojek.
Read in English
Geestelike ontwikkeling: Bybelgenootskap-geletterdheidsboekie
Die Bybelgenootskap se “My eerste Bybel Doen en leer boek” is ʼn leesboek van 30 bladsye wat kinders deur middel van die ryk skat van Bybelverhale en hulle kleurvolle karakters aan letters, syfers en woorde blootstel . Lees- en basiese syfervaardighede word by beginnerlesers gevestig deur die Doen en Leer-metode, wat leerders en al hulle sintuie betrek. Onderrig word vergemaklik deur die gebruik van ikone en flitskaarte, en ʼn onderwysersgids wat by die boek ingesluit is.
Read in English
Beurse vir volwaardige tersiêre opleiding in kleuteronderrig
Die opleiding van kleuterskoolonderwyseresse word in 2013 in die vorm van beurse vir volwaardige tersiêre opleiding in kleuteronderrig uitgebrei.
Betrokkenheid
Hoe kan ek of my selgroep, gemeente, skool, besigheid, vriende of kollegas by die Kosblikkieprojek betrokke raak?
• SMS die woord “kosblik” na 34388 en ‘n Helpende Hand-agent sal jou kontak. (’n SMS kos R2.)
• Doen ’n inbetaling in Helpende Hand se bankrekening:
Helpende Hand
FNB (EERSTE NASIONALE BANK)
Takkode: 250 655 – Centurion
Rekeningnommer: 62 331 445 503
Verwysing: Kosblikkie
• Skakel in by een van Helpende Hand se vrywilligertakke.
• Neem deel aan die eetstaking in Julie en daag jou Facebook-vriende uit om saam honger te ly en ’n skenking te maak.
Hier is ’n paar idees wat lekker kan werk vir ’n spanbou, ’n lewensoriënteringsprojek of ’n selgroepuitreik:
* Om konsert te hou, is altyd ’n treffer! Lees ’n storie voor vir kleuters en laat hulle dit dan opvoer.
* Maak ’n krat vol fantasieklere en laat kleuters dit aantrek en ’n modeparade hou met vrolike musiek.
* Knip of skeur prentjies uit ou tydskrifte en laat kinders collages oor hulle drome maak.
* Vertel kinders van Noag se ark. Neem dan saam klei van verskillende kleure en bou ’n reënboog daarmee.
* Reël dat die brandweer of polisie ’n kleuterskool besoek en die kinders van hulle werk vertel.
* Hou ’n hamburgerpartytjie en laat kinders hulle eie hamburgers aanmekaarslaan.
* Reël ’n poppekasvertoning met ’n opvoedkundige boodskap.
* Hou boeresport: lepel-en-eier-resies, sakresies, toutrek, wegkruipertjie of vroteier.
* Versier saam kolwyntjies.
* Laat kinders hoede maak en stories vertel oor die karakters wat die hoede dra.
* Hou ’n mini-sporttoernooi of bou ’n hindernisbaan en speel “Survivor”.
* Hou ’n piekniek vir ouers en kinders.
* Speel musiek en werk danspassies uit of maak sommer julle eie liedjie op!
Read in English
Dokumente vir 2013: