BREINAALD

Ons wil mense met brei- en hekelwerk bymekaarbring, vrywilligers betekenisvol betrek en praktiese hulp aan behoeftiges bied.

MEER OOR BREINAALD

As jy lief is vir brei of hekel, is die Breinaald-projek vir jou. Hierdie projek bring mense saam om warmte, troos en hoop in behoeftige hande te plaas.

Wat in 2020 begin het as 'n projek om vroetelmoue vir demensielyers te brei, het intussen gegroei tot 'n landswye omgeebeweging. Dit gee veral aan ouer mense die geleentheid om in hul gemeenskappe betrokke te bly en 'n waardevolle bydrae te lewer. Buiten die praktiese waarde, bied brei en hekel ook emosionele en geestelike voordele vir die breiers. Dit verminder stres, hou die brein aktief, en bou gemeenskapsgevoel.

Hoe ons help

Die Breinaald-projek word landswyd deur Helpende Hand se streke en takke aangepak. Elke streek identifiseer 'n spesifieke behoefte, soos mussies vir kleuters, truie vir kinders, of beertjies vir traumapasiëntjies, en koördineer 'n projek rondom daardie nood.

So werk dit

  • Wol-insameling: Skenkers gee wol of maak 'n bydrae waarmee wol aangekoop word.
  • Breiers aan die werk: Die wol word versprei aan vrywilligers, meestal ouer persone, wat dit in liefde verwerk tot nuttige, handgemaakte items.
  • Verspreiding na waar dit nodig is: Helpende Hand sorg dat die items uitkom by mense wat dit werklik nodig het, hetsy dit kleuterskole, hospitale, traumakamers by polisiestasies of tehuise of trauma-eenhede is.

Wat ons maak

  • Mussies, serpe, truie en komberse vir kinders en bejaardes
  • Wolprosteses vir vroue met borskanker (Boesemvriendinne)
  • Vroetelmoue vir Alzheimer- en demensiepasiënte
  • Gebreide beertjies vir traumaslagoffers

Hoe jy kan help

Jy hoef nie 'n meesterbreier te wees nie; elke hand wat help, maak 'n verskil.

  • Brei of hekel saam: Sluit aan by 'n projek in jou streek en brei vir 'n spesifieke behoefte.
  • Skenk wol: Het jy wol wat nie meer gebruik word nie? Ons sal dit aan die regte persoon oorhandig.
  • Maak 'n skenking: Jou bydrae help ons om wol aan te koop en projekte aan die gang te hou.

Suid-Afrika is vol mense met goue hande. Help ons om daardie hande aan die werk te hou. Nie net vir warmte nie, maar vir waardigheid, liefde en 'n beter môre.

Vroetelmou_Infographic