Die laaste afrikaanse kerk

In die volksmond staan sy as die Paul Kruger Kerk bekend. Ons praat van “sy”, want sy is die moeder van al die Gereformeerde Kerke in Pretoria. Jy moet mooi kyk om haar raak te sien, want daar waar sy op die hoek van WF Nkomo- en Kgosi Mampurustraat (voorheen Kerk- en Potgieterstraat) staan, is sy gedeeltelik verberg deur bome en halfvoltooide toringblokke. Jy sal haar ook nie sommer hoor nie; die Sondagoggendklokgeluide en -psalmgesang tussen haar mure kompeteer met ʼn eindelose getoet van kliëntsoekende taxi’s.

Sy is die laaste Afrikaanse kerk in die middestad van Pretoria. Hierdie jaar is dit presies 125 jaar gelede dat haar hoeksteen gelê is.

Oorkant die straat staan nog ʼn nasionale gedenkwaardigheid: die huis van President Paul Kruger, die Gereformeerde Kerk Pretoria se bekendste lidmaat en die laaste president van die ou Zuid-Afrikaanse Republiek. ʼn Paar blokke verder, na die ooste, staan sy standbeeld op Kerkplein – wat só genoem was omdat die destydse Hervormde Kerkgeboue wat tot 1907 daar gestaan het, die sentra van die 19de eeuse pioniersgemeenskap was. Op Sondae dien die grasperke op Kerkplein as sokkerveld en loop Oom Paul se standbeeld van tyd tot tyd onder vernielsugtiges – wat ook onder die huidige gebruikers van die Plein tel – deur. Daarom is daar sprake dat die monumentkompleks in die middel van die Plein liefs na ʼn veiliger standplaas verskuif moet word.

Dit is egter nie moontlik om dieselfde met die Paul Kruger Kerkgebou te doen nie. Daar waar sy staan, sal sy bly staan, of sy sal uiteindelik ook eendag val, soos ook met die ander Afrikaanse kerke in die middestad gebeur het. Neffens die Plein, in Bosmanstraat, staan daar nog ʼn juweel van die tekenbord van die destydse knap Hollandse argitek – Van Rijssen – wat verantwoordelik was vir die ontwerp van die Paul Kruger Kerk. Daar word nog gepraat in die Bosmanstraatkerk, maar nie meer in Afrikaans nie, en die eens statige gebou se loodglasvensters word met plakband aanmekaar gehou. Die ewe historiese Hervormde Kerkgebou in Du Toitstraat is in 2018 aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank verkoop.

Die Paul Kruger Kerkgebou is stom – soos sy nog altyd was – en tog is sy die perfekte klankbord vir al die stemme en geluide van binne en buite. In haar beginjare in die vroeë 1900’s het sy die geknars van die invallende Britse soldatestewels en offisiersbevele weerklank. So ook die klap van die osdrywerswepe. Vandag is dit die eindelose stadsverkeer en die geroep van straatverkopers. Binne die stewige mure word die Evangelie geabsorbeer, en elke stukkie grein op elke houtbank getuig van oordeel en ʼn genade onbeskryflik groot:

Kom in sy huis, o bondsvolk saam; verhef sy lof en prys sy Naam!

Dit was ook dié Psalm wat aangehef is die dag toe die gebou ingewy is en die gemeente al singende agter Oom Paul die trappies bestyg en die verstommende binneruim betree het.

Die orrel, wat uit 1893 dateer, het telkemale seënbede gespeel. Insgelyks is die troumars gereeld vir diegene wat argitektoniese prag en geskiedkundige waardigheid as agtergrond van hulle groot dag verkies, gespeel. Baie waterdruppels het die mat voor die preekstoel – waar verbondsouers hulle kinders aan die genade van die Here kom opdra het en ʼn dekade vantevore met hulle nuwe rokkie en pak “ja” gesê het vir ʼn toegewyde lewe in diens van die Verlosser – benat. So het die statige Paul Kruger Kerk die lewens en seisoene van die kerk- en Afrikanervolk oor dekades heen versier.

Soos almal van ons wys sy ook uiteindelik nou al haar ouderdom. Die verweer sypel oral in: Die geute werk nie altyd meer so goed nie. Die reuse Jakarandaboom gooi jaarliks sy blare op die dak wat verstoppings veroorsaak. Die muf slaan uit teen die mure. Die orrel het dringend aandag nodig. Die reuse weerkaatsende glasvensters van die saalgebou moet vervang word. Die tuin en die veiligheidsheining moet in stand gehou word. Soos elders word die gemeente jaarliks armer in kinders en middele.

Arie Stavast is tans predikant in die gemeente. Hy volg in sy vader – wat ook daar die Woord verkondig het – se voetspore. Ds. Arie is moedig. Hy glo solank daar nog lidmate in die gemeente is, hulle nie sal toelaat dat dié besonderse kerkgebou tot niet gaan nie. Dit is waar, maar hulle gaan hulp benodig ...

Die Laaste Afrikaanse Kerk is ʼn dokumentêre video, wat deur Gustav en Ina Opperman in opdrag van Solidariteit Helpende Hand vervaardig word. Dit word tydens die Krugerdag-vieringe op 10 Oktober 2021 by die kerkgebou bekendgestel.

Koop vandag die DVD van hierdie dokumentêr as versamelstuk! DVD's kan tot 30 September teen slegs 'n R100 by Amanda Tromp bestel word. Stuur gerus 'n e-pos na: [email protected] of oudl. Frik Eloff by [email protected]. U kan ook die kerkkantoor Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 8:00 tot 12:00 skakel by: 065 948 3137. Die opbrengs van die DVD's gaan aan die Krugerkerk geskenk word.

Registreer hier om ‘n digitale weergawe van die dokumentêr ‘Die Laaste Afrikaanse Kerk’, gratis te ontvang.

Die laaste afrikaanse kerk registrasie

"*" indicates required fields

Naam en van*
This field is for validation purposes and should be left unchanged.