MAATSKAPLIKEWERKDIENSTE
MEER OOR ONS MAATSKAPLIKEWERKDIENSTE
Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers, streke en vrywilligertakke is deel van die welstandsgerigte gemeenskapsontwikkelingstruktuur wat daarop gemik is om volhoubare gemeenskappe te bou. Die afdeling bestaan uit ’n span maatskaplike werkers wat in 14 streke reg oor die land gestasioneer is. Die streeks- maatskaplike werkers fokus op die bevordering van welstand en die opbou van veerkragtige gemeenskappe. In samewerking met die streke en vrywilligertakke mobiliseer die maatskaplikewerkdienste-afdeling hulpbronne in gemeenskappe.
ONS fokus is ingestel op die volgende kwesbare groepe:
- Kinders
- Gesinne
- Persone met gestremdhede
- Ouer persone.
KERNDIENSTE BINNE DIE RAAMWERK VAN HELPENDE HAND
Die Maatskaplikewerkdienste-afdeling lewer ook die volgende kerndienste binne die raamwerk van Helpende Hand:
- Opleiding en ondersteuning aan Helpende hand vrywilligers
- Bied ondersteuning met die implementering van projekte om volhoubaarheid te verseker
- Hanteer van maatskaplike navrae uit die gemeenskap, sluit in maatskaplike advies en bring persone in kontak met nodige hulpbronne in hul gemeenskap
- Hanteer van individuele hulp versoek uit die gemeenskap, dmv assesserings en aanbevelings
- Uitbou en versterking van netwerke binne die onderskeie gemeenskappe
- Die daarstel en implementering van ontwikkelingsprogramme en -projekte
- Bied ook opleiding en praatjies aan in die gemeenskap oor aktuele sake, gefokus op maatskaplike kwessies
- Samestelling van gemeenskapsprofiele om die ware behoeftes van die gemeenskap te bepaal.
Die maatskaplikewerkdienste-afdeling beskik nie oor die mandaat om die volgende funksies te vervul nie:
- Statutêre Maatskaplike Dienste:
Helpende Hand beskik nie oor die mandaat om enige vorm van statutêre maatskaplike dienste te kan lewer nie, naamlik: - Die beveiliging van kinders en enige ander optrede kragtens die Kinderwet Nr. 38 van 2005.
Die maatskaplikewerkdienste-afdeling is egter bevoeg om raad en leiding oor die verskillende statutêre prosesse kragtens bogenoemde wet te verskaf en persone na geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies te verwys. - Finansiële bystand:
Solidariteit Helpende Hand is ʼn nie-winsgewende organisasie en kan dus nie finansiële bystand bied nie. Dit sluit onder andere die volgende uitgawes in: - Verbands- of huuronkostes
- Elektrisiteitsrekeninge
- Herstelkostes aan wonings
- Trek- of reisonkostes
- Finansiële ondersteuning in terme van mediese aangeleenthede
- Begrafnisdienste
- Borgskappe
- Behuising
Helpende Hand beskik nie oor enige behuising nie - die maatskaplike werker kan egter waar moontlik kontakbesonderhede van skuilings en ander hulpbronne voorsien.