NASIONALE TAKKE
ONS NASIONALE TAKKE
By Solidariteit Helpende Hand glo ons dat elke mens uniek is – met waardigheid, potensiaal en 'n behoefte aan gemeenskap. Ons nasionale strukture is geskep om sinvolle ondersteuning en rigting te gee aan vier kernfokusareas: kinders, gesinne, bejaardes en persone met gestremdhede. Hierdie struktuur help ons om groter impak te maak, strategies op te tree en daadwerklik hoop te bring waar dit die nodigste is.
Op hierdie platform fokus ons spesifiek op persone met gestremdhede – 'n gemeenskap wat dikwels ongesien en onderverteenwoordig is. Ons doel is nie om namens hulle te praat nie, maar om saam met hulle te werk, hulle stemme te versterk, hul regte te beskerm, en ruimtes te skep waar hulle ten volle kan deelneem en floreer.
Ons projekte, programme en vennootskappe is ontwerp om geleenthede te aktiveer, hulpbronne beskikbaar te stel en gemeenskappe toe te rus om inklusief en ondersteunend te wees. Hier doen ons dit nie net in teorie nie – ons leef dit uit in elke dorp, stad en streek waar Helpende Hand werk.
Selfs binne iets soos ons motorfietskultuur, is hierdie waardes duidelik: ’n gedeelde passie vir ry word die dryfkrag agter ware gemeenskapsbetrokkenheid en uitreik. Dit illustreer hoe gewone mense, saam, buitengewone verskil kan maak – met sagte harte, harde werk, en ’n visie vir ’n beter toekoms vir almal.
Welkom by ons strukture – waar ons nie net beplan en droom nie, maar ook doen. Ons nooi jou uit om saam met ons te stap, te dien, en hoop te bring – veral aan hulle wat dit die meeste nodig het.
Solidariteit Helpende Hand Forum vir Persone met Gestremdhede
Solidariteit Helpende Hand Nasionale Motorfietsklub.
FORUM VIR PERSONE MET GESTREMDHEDE
Die Forum vir Persone met Gestremdhede van Solidariteit Helpende Hand staan in diens van mense wie se stem dikwels stilgemaak of geïgnoreer word. Ons skep ruimtes waar inklusiwiteit, begrip en ondersteuning nie net gepraat word nie, maar aktief uitgeleef word. Hierdie forum is ’n platform vir dialoog, bewustheid, bemagtiging en praktiese betrokkenheid – ’n plek waar mense met gestremdhede en hulle families, ondersteuners en instansies wat spesifiek werk met persone en kinders met gestremdhede as vennote gesien, gehoor en waardeer word.
Ons jaarlikse LIGKonsert vier die menswaardigheid, talente en stories van mense met gestremdhede – ’n geleentheid waar gaste van eer gekombineer word met musiek, inspirasie en inklusiewe viering. Fondse wat hieruit gegenereer word maak deel uit van die LIGStudiefonds wat ‘n verdienstelike student met ‘n gestremdheid instaat stel om ‘n rentevrye studielening te bekom.
Die Se-jou-se kultuurkompetisie moedig kreatiewe uitdrukking aan en skep ’n platform vir unieke stemme om gehoor te word van kinders met gestremdhede
Ons bied ook ‘n jaarlikse Verrykingsoggend aan waar relevante kwessies rondom gestremdhede bespreek word – van regsaspekte en onderwys, tot toegang tot dienste en emosionele welstand.
Twee keer per maand hou ons aanlyn forumgesprekke waar deelnemers van regoor die land inskakel om kennis te deel, stories te vertel en mekaar te ondersteun. Daarbenewens bied ons netwerk geleenthede aan waar rolspelers uit verskillende sektore – van onderwys en maatskaplike werk, tot beleid en entrepreneurskap – bymekaar kom om sinvolle vennootskappe te bou.
Ons Forum bring mense saam, breek af grense en bou aan ’n samelewing waarin almal plek het – nie net in woorde nie, maar in aksie.
NASIONALE MOTORFIETSKLUB
Die Helpende Hand Motorfietsklub is meer as net 'n groep entoesiastiese motorfietsryers – dit is 'n instelling van mense wat hul liefde vir die oop pad kombineer met 'n diepgewortelde roeping om ’n verskil te maak.
Vir ons is motorfietsry nie net ’n stokperdjie nie, maar ’n manier om gemeenskappe nader aan mekaar te bring, omgee sigbaar te maak en hoop te bring waar dit die nodigste is.
Die welstand van ons klublede en die mense in ons gemeenskappe is vir ons 'n prioriteit, want ons glo dat 'n gesonde liggaam, gees en siel die fondament is van 'n sterk en veerkragtige samelewing.
Met elke rit, projek en aksie bring ons ’n boodskap van hart, krag en hoop.
Ons reël uitreike vir kinders, besoek bejaardes en betrek ons gemeenskappe deur doelgerigte projekte wat ’n blywende impak het. Of dit nou ’n ondersteuningsprojek, fondsinsameling of bewusmaking van ’n saak is – ons ry met ’n doel, gedrewe deur ons passie vir mense.
Die pad wat ons saam ry, is nie net teer en gruis nie – dit is 'n pad van hoop en verandering. Ons leef met ’n sagte hart in 'n harde wêreld en glo dat ons deur samehorigheid, deursettingsvermoë en ’n brandende liefde vir ons medemens 'n verskil kan maak. Ons visie is 'n gemeenskap waar mense fisies, emosioneel en geestelik floreer. Want vir ons is motorfietsry nie net ’n vryheid nie, maar ’n roeping om met krag en deernis te dien.
Tans beskik die Helpende Hand Motorfietsklub oor bykan 120 lede versprei oor 5 “Chapters” wat nasionaal verteenwoordig word.
Word deel van hierdie inisiatief en help om hoop en 'n toekoms te skep.
Kontak ons
Suzette Oosthuizen
Hoof
E-posadres: suzette@helpendehand.co.za
Kontaknommer: 084 586 6629
Ons Plek en Ons Sentrums en Nasionale Strukture: