Wie is Solidariteit Helpende Hand

Ons visie is om oplossings vir die aanspreek van Afrikaner-armoede te vind.

youtube-video-thumbnail

Wie is ons

Solidariteit Helpende Hand se roeping is gemeenskapsontwikkeling.  Dit is wat ons wil doen, moet doen en ons mee besig hou.  Ons dink verbondsmatig, met ander woorde, mense is verbonde aan mekaar.  Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap.  Ons leef binne ’n gemeenskap en wil die gemeenskap ontwikkel waarbinne ons leef.

Ons is geskoei op die beginsels van die 1949 Afrikaner Helpmerkaarbeweging waar die fokus val op help, saam en ons.  Jy is nie alleen nie, maar deel van ‘n gemeenskap.  Om ’n gemeenskap te ontwikkel en die uitdagings van die dag aan te spreek moet ’n mens strukture bou en volhoubare oplossings bied.

Visie van Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand wil deur maatskaplikgebaseerde gemeenskapsontwikkeling die selfontwikkeling van die mens in sy gemeenskap, en die ontwikkeling van die gemeenskap as geheel, bevorder.

Missie van Solidariteit Helpende Hand

Om maatskaplikgebaseerde gemeenskapsontwikkeling in gemeenskappe te bevorder deur volhoubare ontwikkelingsprogramme en -projekte, opleiding, netwerkvorming en hulpbron-ontginning, sodat die mens deur sy gemeenskap tot ’n ontwikkelde, selfstandige, selfverantwoordelike en optimale funksionerende persoon gedryf word, wat gesonde, funksionerende gemeenskappe tot gevolg het. Die uitkoms moet ʼn toekoms wees waarin die Afrikaner-kultuurgemeenskap, vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Ons strategie en volhoubare oplossings

Om hulpbronne, energie en tyd te spandeer aan oplossings wat nie volhoubaar is nie, maak nie sin nie.  Daarom was Solidariteit Helpende Hand se strategie van die begin af sterk strukture wat volhoubare oplossings bied.  Armoede moenie net draagliker gemaak word nie, maar moet voorkom en verbreek word.  By monde van Flip Buys was die beste helpende hand nog altyd dié een aan die einde van elke mens se eie arm. Daarom is dit Solidariteit Helpende Hand se doel om mense te help om hulself te help.

Hierdie strategie word in ons embleem uitgebeeld: dit is nie ’n bedelhand nie en ook nie ’n gebalde vuis nie. Dit is ’n helpende hand, eerstens gerig op kwesbare groepe soos ouer mense, kinders en mense met gestremdhede en dan ook gesinne. Tweedens is die klem op volhoubare voorkoming en verbreking van maatskaplike probleme. Opleiding speel hier ’n belangrike rol. Mense se vlakke van opleiding bepaal hul vlakke van inkomste en daarom bly opleiding en opvoeding die beste belegging wat daar is. Dit is die kragtigste enjin van voorspoed en vorm deel van ’n omvattende maatskaplike ontwikkelingstrategie.

Solidariteit Helpende Hand wil maatskaplik-gebaseerde gemeenskapsontwikkeling in gemeenskappe bevorder deur volhoubare ontwikkelingsprogramme en -projekte, opleiding, netwerkvorming en hulpbron ontginning. Sodoende kan die mens deur sy gemeenskap ’n ontwikkelde, selfstandige, selfverantwoordelike en optimaal funksionerende persoon word. Dit sal gesonde en funksionerende gemeenskappe tot gevolg hê. Die uitkoms moet ‘n toekoms wees waarin die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig kan wees. Ons Gemeenskapsherstelplan het verder ten doel om gemeenskapskrag te ontgin. Hierdie krag lê in elke persoon se menslike potensiaal en godgegewe talente en gawes wat verder ontgin en ontsluit moet word. Volhoubare gemeenskapsontwikkeling kan slegs materialiseer indien die gemeenskappe volle vennote en drywers van die ontwikkelings prosesse word en nie blote ontvangers of deelnemers bly nie. Die krag van die gemeenskap lê daarin dat gemeenskappe hul beskikbare hulpbronne mobiliseer en gemeenskapslede die onderskeie uitdagings uit hul eie wilsbeweging aanpak. Die krag van die gemeenskap word gesien in opstaan, saamstaan en saamwerk.

Elkeen van ons is ‘n ambassadeur van verandering en speel ‘n integrale rol om ons eie gemeenskappe te laat floreer. Dan vorm ons ‘n gemeenskap wat met hart, in krag saamstaan om hoop uit te dra. Daarom glo ons in die krag van die gemeenskap: uit die gemeenskap, deur die gemeenskap en vir die gemeenskap.

Ons struktuur

Helpende Hand het ongeveer 100 personeellede; 200 takke en dorpsverteenwoordigers in 12 streke wat ons hande en voete in die gemeenskap is.  Hierdie takke bestaan uit vrywilligers wat die nood van Afrikaners in hulle gemeenskappe identifiseer en dit dan binne die raamwerk van Helpende Hand aanspreek.

Daar is ook bykans 100 Ons Winkels – skenkings winkels landswyd wat ‘n volhoubare inkomste meebring. Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum administreer tans 220 studiefondse ter waarde van R238 miljoen waarmee ons reeds meer as 6300 behoeftige studente se studies, oor die laaste 11 jaar moontlik gemaak het!

Verder het Helpende Hand tans drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek 1: Strand; Ons Plek 2: Derdepoort; en Ons Plek 3: Volksrust, en twee mediese ondersteuningsprojekte, Ons Spreekkamer: Witbank en Ons Spreekkamer: Bloemfontein. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums 158 kinders tesame in die onderskeie na-skoolsentrums, terwyl die sentrum in Ons Plek: Strand 9 kleuters en Ons Plek: Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het. In Pretoria-Noord is daar ‘n Ons Sentrum wat terapie aan kinders verskaf.

Waar kom ons fondse vandaan

Helpende Hand bou volhoubare strukture sonder staatsondersteuning of staatshulp.  Ons Helpende Hand familie dra ons.  Ons het meer as 40 000 ondersteuners wat per debiet-order ʼn maandelikse bydrae lewer en ons ontvang ook skenkings vanaf die gemeenskap. Ons Winkels lewer ’n groot bydrae in die bereiking van ons doelwit en testamentêre bemakings maak ons sterker. Ons het lankal geleer dat baie bietjies maak baie.  So bou ons ’n vry, veilige en voorspoedige gemeenskap.