AANMELDING VAN MISHANDELING VAN KWESBARE GROEPE

‘n Ideale samelewing sou een wees waar sorg en empatie vir ons medemens die kern is. Wanneer ons na ons kwesbare groepe soos kinders, bejaardes en persone met gestremdhede kyk, is dit van kardinale belang dat ons hulle beskerm en vir hulle ook die geleentheid gee om vry, veilig en voorspoedig in gemeenskappe te kan woon waar hulle voel hulle behoort. Die belangrikheid om enige mishandeling of verwaarlosing van hierdie kwesbare groepe aan te meld, kan daarom nie genoeg beklemtoon word nie.

Bejaardes is seker een van die mees kwesbare groepe in ons samelewing. Met die agteruitgang van fisiese, psigiese of emosionele vermoëns beskik bejaardes nie meer oor die kapasiteit om hulself te beskerm nie en word hulle dikwels slagoffers van mishandeling of verwaarlosing. Ongeag die agteruitgang van hulle gesondheid, het bejaardes nog baie kennis en moontlik vaardighede wat hulle kan deel.

Die mishandeling van bejaardes kan fisies, emosioneel, finansieel of seksueel van aard wees. Om te verseker dat ons die kennis, vaardighede en waardigheid van ons bejaardes behou, is dit belangrik dat gemeenskappe verantwoordelikheid neem vir hulle senior burgers.

Persone met gestremdhede word dikwels deur gemeenskappe uitgestoot. Hulle onvermoë om na hulself te kyk en hulle afhanklikheid van sorg en ondersteuning het tot gevolg dat hulle teikens van mishandeling word. Hulle totale afhanklikheid het ook tot gevolg dat persone met gestremdhede nie ‘n “stem” het om dit aan te meld as hulle mishandel of verwaarloos word nie. Daarom bly dit die plig van die gemeenskap en sy mense om op te tree en hierdie mishandeling en verwaarlosing aan te meld sodat ons dié wat nie vir hulself kan opstaan nie, kan beskerm en die geleentheid bied om hulle optimale funksionering te bereik in ‘n omgewing waar hulle veilig voel.

Die mishandeling van kinders is ‘n realiteit waarmee baie gemeenskappe gekonfronteer word. Dit is belangrik om te onthou dat kinders die toekoms is en deur hulle welstand te verseker, verseker ons ook ‘n volgende generasie. Daarom bly dit ons elkeen se verantwoordelikheid om ‘n omgewing te skep waarin kinders veilig voel, gelukkig leef, hulle vermoëns kan ontwikkel en hulle potensiaal bereik.

Persone wat kennis dra of selfs net ‘n vermoede het van enige vorm van mishandeling teenoor bejaardes, persone met gestremdhede en kinders word aangemoedig om die moed te hê om hierdie bekommernisse aan te meld. Nie net rus die onus om dit aan te meld op hierdie individue nie, maar dit is ook ons elkeen se morele verantwoordelikheid. Daar lê krag in gemeenskappe wat saamstaan en omgee vir mekaar. So kan ons ‘n samelewing skep waar kwesbare groepe beskerm word en tuis voel, ‘n gemeenskap wat omgee, vir mekaar sorg en empatie vir sy medemens het.

Chantell van Wijk

Maatskaplike werker

Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek