Dankbare harte

Uit die dagboek van ‘n maatskaplike werker

As maatskaplike werker bly ek nederig dankbaar vir die geleentheid om my beroep te kan beoefen en daardeur my drome en passie te kan uitleef.

Die lewe vat jou soms deur baie slaggate, moeilike omstandighede en uitdagings, en as ek terugkyk op my lewe as mamma, vrou en maatskaplike werker, kyk ek met ʼn dankbare hart terug, omdat ek steeds kan werk en iets vir iemand kan doen of beteken. Ware, opregte dankbaarheid bars uit my hart wanneer ek ʼn bietjie stilstaan en ervaar en besef hoe min ander het, nie geleenthede kry nie en hoe swaar ons gemeenskappe kry.

Net so kom ek ook daagliks in aanraking met mense wat seer het, wat finansieel nie meer die wa deur die drif kan trek nie, wat geliefdes aan die dood moes afstaan, hul werk verloor het of siek geword het en daarom verwerp is en nie aanvaar word nie.

Dit is dan wat ek besef dat geluk, vrede en dankbaarheid by jouself begin. Ek is in die bevoorregte posisie om my geloof te kan uitleef in my beroep by Solidariteit Helpende Hand. 1 Kronieke 16:34“Dank die HERE, want Hy is goed! Sy troue liefde duur vir altyd.” Ekkoester hierdie vers na aan my hart.

Geloof laat jou God se seëninge en liefde raaksien. Sodoende kan jy die swaarkry van ander verlig en ondersteuning of hulp aanbied, ‘n klankbord wees vir iemand wat net gehoor wil word, of daar wees deur van jou tyd te gee.

Dit is hier waar ons takke, ondersteuners, vrywillige hande, netwerke, donateurs en vriende my roeping en werk soveel makliker maak deur my hande te versterk. Skenkings word gemaak, hulp word aangebied en projekte word uitgerol. Mense raak betrokke en studente kry geleenthede om te studeer.

Ek dink aan ‘n spesifieke gesin wat onlangs verhuis het na ‘n plattelandse dorp waar die ouers geen werk of heenkome gehad het nie. Gemeenskapslede en netwerke het ingetree en die kerk het onmiddellik gehelp. Weekliks word daar steeds eiers voorsien om in hulle onmiddellike behoeftes te voorsien. Die mamma het uitgespring en begin bak, het selfs spesiale voetskuurders gemaak, mooi verpak en begin verkoop, want sy wil uitstyg bo haar omstandighede. Hulle het nie gevra vir geld nie, net ondersteuning en verwysings na die regte persone wat hulle kon help om te oorleef.

Twee van die kinders is gekies om aan die nasionale rolbalkampioenskappe deel te neem en die mamma het begin om haar voetskuurders te bemark om self ʼn inkomste te verdien. Tydens ons skoolbesoeke met Piet Tande het my pad gekruis met donateurs wat hierdie kinders finansieel en emosioneel kan ondersteun, want hulle is ook toevallig deel van die Noord-Kaap Rolbalunie vir skole. Is dit nie wonderlik dat God so voorsien nie! So dikwels gebeur dit dat die gemeenskap self intree en bydra sodat dat ek my roeping voluit kan uitleef. Ek sluit af met die woorde van Charles E. Jefferson: “Dankbaarheid word gebore in harte wat nadink oor die genade van die verlede.”