Die krag van HOOP in die maatskaplikewerk professie

“En mag die God van HOOP julle vervul met alle blydskap en vrede deur die GELOOF, dat julle oorvloedig kan wees in die HOOP deur die KRAG van die Heilige Gees!” Romeine 15:13

Ons klim vroeg in die kar en ry so ‘n uur na ‘n afgeleë dorpie toe om twee skole te gaan besoek om ‘n behoeftebepaling te doen. Ons wil ook graag weet of Solidariteit Helpend Hand dié skole op enige manier kan help en ondersteun.

Ons word vriendelik ontvang by die eerste skool en die eienares praat met passie in haar hart oor haar skoolkinders, al 24 van hulle. Ons word bedien met ‘n glasie Coke en ‘n breë glimlag. *Marina het ‘n asma-aanval gehad oor die naweek, maar daar is nie nou kans om aan haar gesondheid aandag te gee nie. Die kinders is die rede vir haar bestaan en onderwys is haar roeping. “Een van my gewese studente is hierdie jaar hoofseun by die hoërskool,” sê sy trots. Sy besef sy het ‘n aandeel aan die kind se karaktervorming gehad en dit maak haar trots! Marina weet sy lewe haar roeping uit waar sy is. Dit gee haar ook hoop om elke oggend op te staan ten spyte van haar siekte. Vandag hou sy slegs skool vir kinders wat nie in haar kultuurgroep val of haar moedertaal praat nie. “Die demografie het verander,” sê sy. Beide haar kombi’s waarmee sy die kinders van hulle huise af en terug vervoer, so 40 minute se ry van die skool af, het gebreek. En haar skoolgeld kan sy nie opstoot nie, want dan skuif die kinders. Haar man *Steven ry nou drie keer op en af met ‘n klein motortjie om al die kinders elk dag betyds by die skool te kry. Boonop het haar kok ook vanoggend bedank – sy sal vandag self inspring en kosmaak! Trane rol. Sy is moedeloos maar hoopvol, want sy vertrou HY sal voorsien. “Hy het nog altyd, en Hy sal weer,” sê sy.Ons behoeftebepaling is gedoen en gesprekke met ons taklede op die dorp gaan volg om te kyk hoe ons haar kan ondersteun in hierdie tyd.

Voor ons die volgende skool besoek, hanteer ek eers ‘n paar oproepe:

‘n Aanmelding van kinders wat vir ‘n maand nie by die skool uitgekom het nie

‘n Tienerdogter wat onthul het dat haar stiefpa haar molesteer en die terapeut moet besluit oor haar veiligheid en die aanmeldingsproses volg; ons gee raad

‘n Gesin wat kosnood het

En ‘n pleegkind wat tans nie in ‘n skool is nie, want hy het spesiale behoeftes en daar is nie finansies nie

Af in die pad is ‘n trots Afrikaanse leersentrum waar van babas tot graad 7-leerders versorg word. Ons word oorval met drukkies en kort geselsies met die kinders toe ons by die skool instap. ‘n Gevoel van rustigheid, vrede en liefde is tasbaar. Die skoolhoof is trots op haar skool. Sy vertel hoe sy dit in 2015 gestig het en hoe die Here haar skool seën en hoe alle kinders hulle potensiaal bereik. Sy vertel hoe sy God vertrou, al weet sy nie hoe sy hierdie maand se salarisse gaan betaal nie. Nadat ons projekte bespreek en ons harte vir ons roeping, taal, kultuur en geloof gedeel het, voel dit of ons mekaar al jare ken.

Nou eers terug huis toe.

“Ons het skenkers gekry vir ons projek. Prys die Here!” laat weet ‘n taklid ons en ons is saam met hulle opgewonde. Afsprake word telefonies bevestig vir die week se opwindende projekte en ek sien uit daarna . ‘n Taklid bel oor ‘n gesin oor wie sy bekommerd is en vra leiding, en ‘n skool bevestig gou getalle vir ‘n gemeenskapsprojek wat ons saam met hulle gaan aanpak.

Terug in my tuisdorp besoek ons ‘n tehuis vir ongehude moeders. Ons is genooi om deel te wees van die trauma-inligtingsdag wat die eienaar gereël het vir die jong meisies en dames asook gemeenskapslede wat baie trauma beleef het. Solidariteit Helpende Hand het die voorreg om deel te wees van die dag en om drie van die moeders se kursus te betaal. Ons leer en hoor stories van rou en smart en hoe belangrik die gemeenskap se ondersteuning, selfliefde, kwesbaarheid, ‘n nieveroordelende houding en vergifnis is … en HOOP! Die aanbieder deel haar persoonlike getuienis oor hoeveel sterftes sy al beleef het, insluitend haar ouers, ‘n doodgebore kind, ‘n ongebore kind en haar man, en hoe God haar deur alles gedra het sodat sy steeds elke dag kan hoop hê.

Vandag besef ek dat elke storie wat ek daardie dat gehoor het, ‘n getuienis was oor die hoop wat ons in God het met betrekking tot ons roeping wat ons elke dag uitleef. Dié wat nog nie deurbraak ontvang het nie, kan hoop. Dié wat die pad van genesing stap, kan dit stap omdat hulle HOOP op God, en dié wat in hulle moeilike omstandighede deurbraak ontvang het, kan getuig van die HOOP wat ons in GOD kan hê.

Die maatskaplikewerkberoep word gekonfronteer met baie uitdagings en hartseer. Net soos Marina van die eerste skool wat elke dag opstaan ten spyte van haar uitdagings omdat sy hoop het in God om haar roeping te kan uitleef, kan ons ons bes probeer om ‘n verskil te maak. Maar soms is ons hande afgekap en weet ons dalk nie meer hoe om te help nie. Sekere uitdagings is hartseer, soms traumaties, en partykeer moet ‘n mens kies om die vergifnispaadjie te stap met kliënte wat jy weet kinders te na gekom het en waar geregtigheid weereens nie geskied het nie. Ek weet nie in watter situasie jy as maatskaplike werker jou vandag bevind nie, maar ek weet dat God se HOOP tasbaar is en dat dit waarlik iets is waaraan ons kan vashou in alle omstandighede. Mag jou wonderlike, unieke ROEPING, wat sommige mense nie altyd verstaan nie, hierdie jaar getuig van BLYDSKAP en VREDE op jou GELOOFSPAD saam met GOD, en mag die Heilige Gees se krag jou dra en versterk om jou Godgegewe ROEPING met volharding te kan uitleef.

Maatskaplike groete