‘n Maatskaplike werker se wonderwerkstokkie of towerstaffie

Maatskaplike werkers beleef daagliks dat die publiek ‘n sekere persepsie en/of wanpersepsie het van wat ons rolle, dienste en verantwoordelikhede insluit, met ander woorde van wat ons mandaat is.

Dit voel vir my of Jan Alleman dink ons het ‘n wonderwerkstokkie of towerstaffie, want hulle vra of verwag en ons moet net beskikbaar wees en gee. Navrae wat ons kry, wissel van kos, klere, meubels, rolstoele en ander toerusting tot skoolfonds, vervoer, finansiële hulp vir huur, munisipale rekeninge, skuld, begrafnisse, rehabilitasiefooie en vele meer. Van hierdie navrae is om te voorsien in mense se basiese behoeftes, maar ander is ernstiger, soos hulp vir mishandelde kinders, persone met gestremdhede en bejaardes.

As ons kyk na al die navrae, dan vra ons: HOE? Die algemene maatskaplike behoeftes raak al meer en die ondersteuning, hulpbronne en aktiewe vrywilligers raak al minder of is reeds uitgeput.

Daarom dink ek dit is belangrik dat die publiek moet weet daar is maatskaplike werkers in verskillende diensvelde soos by kinderbeskermingsorganisasies, skole, hospitale, polisiekantore, instansies vir ouer persone, persone met gestremdhede, jeugsorgsentrums, korrektiewe dienste en rehabilitasiesentrums. Dan is daar ook dié wat spesialiseer in spesifieke velde soos gemeenskapsontwikkeling, bedryfs- maatskaplike werkers, kliniese maatskaplike werkers, geestesgesondheids- maatskaplike werkers en forensiese maatskaplike werkers.

Die diensveld waarin ek tans werksaam is by Solidariteit Helpende Hand, is gemeenskapsontwikkeling, en die beste persoon om dit te verduidelik, is Hannes Noëth. Hy begin met drie vrae:

  • Wat is gemeenskapsontwikkeling?
  • Wie moet bydra tot en betrokke raak by gemeenskapsontwikkeling?
  • Wie moet verantwoordelikheid neem vir wat?

Dan beantwoord hy dit so mooi: Dit is nie ‘n taak wat opgedra is aan een of twee, ‘n instelling, ‘n individu of spesifieke groep nie. Dit is ‘n opdrag aan ons almal. Ons wil graag in veilige, gesonde en stabiele gemeenskappe leef. Om dit te kan doen, moet ons ons gemeenskappe ontwikkel, bou en bewaar. So ons moet iewers begin, saam begin.

Wat is dan die oplossing? In die maatskaplike omgewing is netwerking tussen bogenoemde organisasies, instansies en afdelings uiters belangrik. Dit beteken daar moet positiewe bande en werksverhoudinge tussen die verskeie partye bestaan sodat hulle kan saamwerk en mekaar ondersteun. Dit sal lei tot beter dienslewering en ingeligte besluite in gemeenskappe waar daar samewerking en hulpbronne is.

Maatskaplike werkers het nie ‘n wonderwerkstokkie of towerstaffie om probleme vinnig en maklik mee op te los nie. Maar ons het nodig om te weet ons is nie alleen nie en dat daar ‘n gemeenskap is wat saamstaan, saam help en saamwerk om in al die behoeftes te voorsien. Netwerking is van kardinale belang, want saam is ons sterker en kan ons ‘n groter en meer blywende verskil maak. Kom ons vat hande en sê: EK WIL.