Artikel: Marna Swanepoel

B-R-A-A-F is ‘n nuwe woord in my Maatskaplikewerkwoordeboek. Dit het baie betekenisse … Wie sou nou kon dink ‘n mens sal so baie van jouself kan leer by ‘n gelukbringer met spiere so groot soos Arnold Schwarzenegger s’n en met ‘n broek wat so styf sit soos my Ouma se tuisgemaakte konfytbotteltjies se deksels.

Ek het altyd gedink om ‘n maatskaplike werker te wees, moet jy baie dinge kan doen – van kospakkies uitdeel en projekte aanbied tot ‘n boemelaar se kis dra op sy begrafnis omdat daar nie familie teenwoordig is nie. En nou kan ek nog iets by my lysie voeg: Om letterlik braaf te wees.

Ek toer saam met Braaf die gelukbringer deur ons streek en besoek kleuterskole en laerskole om kinders te leer dat dit braaf is om die regte ding op die regte tyd te doen. Ek skuil agter Braaf se helper en noem myself Brafin (want eintlik is ek sy Koningin). Ek het twee pers vlegsels met ‘n goue strik op my kop, ‘n mantel, en natuurlik rooi lippe!

”So braaf soos ‘n boerboel, so sterk soos ‘n bees …” begin Braaf se bekende liedjie in die skoolsaal speel en ek besef dit is tyd. Ek vat die mikrofoon met beide hande vas, sit my mooiste glimlag op en hoop die rooi lipstiffie doen sy ding. Ek voel hoe 500 paar kinderogies na my staar terwyl die verhoog soos ‘n wenstreep om die 100 m-draai voor my lê. Ek voel soos mej. SA wat beoordeel word, maar ek gaan vir goud! “Dis maak of breek,” dink ek by myself en begin spontaan met die kinders gesels terwyl die onderwysers oopmond na my staar. Ek dink by myself: “Ek moes eerder na my ma geluister en drama gaan studeer het,” maar vir nou moet my pa se gunstelingwoorde terwyl ek in die hoërskool was maar vir eers doen: “Juffroutjie, jy het houding.” Gelukkig kom Braaf tot my redding en is die fokus so ‘n klein bietjie weg van my, maar ek weet … die dansie lê nog voor. Ek verbeel my ek is ‘n finalis op die bekende Dancing with the Stars-program en “skut daardie biscuit” soos Pieter Koen in sy liedjie sing. Selfbeeld, hou …

Die kinders geniet die optrede en neem spontaan deel. Party is natuurlik meer spontaan as ander. So kom ek gou agter toe die ek die vraag vra: “Nou hoekom dink julle is die maatjies lelik met my en wil nie met my speel nie?” ‘n Passievolle blou-oogdogtertjie antwoord: “Want jy is te groot.” My oë is stokstyf en ek voel die ongemak in my groottoon opstoot deur my hele lyf. Vir twee weke dieet ek al om vir die naweek se troue in ‘n nommerpas-broekpak te pas. Selfbeeld, hou!

Ek en Braaf ry na ‘n maand van toer terug huis toe. Ons giggel lekker oor alles en nog wat en ek dink by myself hoe baie ek van myself by Braaf geleer het. Ek het geleer om uit my gemaklike boksie te klim, want dis hoe ‘n mens groei. Jy hoef nie vir iets te gaan leer het om dit te kan doen nie. Wees net jouself. Daar is mense wat van jou hou nes jy is. Jy hoef nie alles perfek te doen nie. Jy is genoeg! Ek het ook geleer dat maatskaplike werkers maar meer mag lag. En dat ons ook woorde by ons Maatskaplikewerkwoordeboek mag voeg wat vir ONS iets beteken.

Wie het nou ooit gedink ‘n gelukbringer kan jou werklik leer, vrede gee, en ja – ook geluk bring!

Braaf, ek sien daarna uit om in 2024 weer saam met jou te toer en nog geheimenisse van die hart te ontdek.

Braaf jy is my held!

Al my liefde

Jou enigste Brafin