Digbundel mockup4

Solidariteit Helpende Hand stel 'n digbundel ten bate van die FroueVonds bekend.

Hierdie digbundel bevat 20 gedigte elk van René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, en Alta Strauss, bekende skrywer en motiveringspreker. Die bundel getiteld Steeds Vrou bevat gedigte wat handel oor verlies en die pad na hoop. Veral in hierdie moeilike tye voel ons dat hierdie woorde werklik ʼn verskil in die gemoedstoestand sal maak, asook hoop vir die vroue van Suid-Afrika sal bring.

Laurika Rauch en Anice Kruger (die brandslagoffer, Pippie Kruger, se mamma) het elk ʼn resensie oor die digbundel geskryf wat ook in die boek gepubliseer sal word. Laurika Rauch skryf die volgende oor die bundel: “Watter mens, watter vrou, kan nie met hierdie woorde identifiseer nie? Na selfs net die eerste deurlees van Steeds vrou het ek ook ʼn ‘ongelooflike ligte ervaring’ beleef, maar bowenal het ek ʼn plek van stilte en woorde gevind wat ek nodig het om my eie gevoelens mee te beskryf.”

In egte Afrikaans getuig René en Alta oor verlies in elkeen se persoonlike lewe en hoe dit met die vooruitsig van hoop gepaardgaan.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, se woorde oor die digbundel lui soos volg: “Ná alles sê beide van hulle: ons is steeds vrou. Ons praat nie net nie. Ons ken verdriet en seer en verlies. Hulle boodskap is: Wees jouself. Hê hoop. Selfs in tye van verlies. Natuurlik stel hulle hulleself bloot met die publisering hiervan. Hulle kies dit. Hulle doen dit graag. Die bundel is vir elkeen wat hoop in ʼn tyd van verlies moet bring.”

50% van die wins van hierdie digbundel gaan aan die FroueVonds van Helpende Hand geskenk word om 3 000 behoeftige jong dames in Suid-Afrika van sanitêre ware te voorsien, asook om jong, behoeftige vroue in staat te stel om deur die Susanna Smit Studiefonds te gaan studeer.

* Die FroueVonds word met opset verkeerd gespel om aan te pas by ons leuse, “want alles loop nie altyd reg nie”.

Koop vandag jou digbundel!