Wil om te help

Maatskaplike werk is ʼn professie. Maatskaplike werkers lewer dienste aan individue, groepe en gemeenskappe.

Daar is so baie stereotipes van wat maatskaplike werkers doen. Christia Potgieter, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplikewerkdienste-afdeling, verduidelik dat die publiek ongelukkig meestal onbewus is van die onmisbare dienste wat maatskaplike werkers in gemeenskappe lewer. Dit sluit onder andere die volgende in:

  • Terapie vir slagoffers van enige soort trauma, insluitend seksuele mishandeling, aanranding, egskeiding, boeliery en die dood van ‘n geliefde
  • Opleiding om emosionele welstand te verbeter
  • Huweliksberading
  • Ouerskapopleiding en ouerskapplanne
  • Verligting van armoede en ander struikelblokke wat verhoed dat ‘n gesin gelukkig is en saam groei
  • Statutêre dienste wat maatskaplike werkers wetlik magtig om kinders of gesinne te beveilig; Solidariteit Helpende Hand verskaf nie self statutêre dienste nie, maar verwys kliënte waar nodig na iemand wat dit wel verskaf
  • Mediasie tussen individue wat in konflik is; Solidariteit Helpende Hand verskaf ook nie hierdie soort diens nie maar kan mense waar nodig verwys
  • Veldtogte om gemeenskappe bewus te maak van enigiets wat mense se fisiese en emosionele welstand beïnvloed, byvoorbeeld depressie, angs, stres, alkohol- en dwelmmisbruik, dobbelverslawing en gestremdhede

Maar maatskaplike werkers kan nie alles alleen doen nie. Ons almal het ʼn verantwoordelikheid om mekaar te help.

Wil jy graag help? Het jy ʼn passie of kan jy ‘n vaardigheid bied?

Ons sê dankie aan al ons maatskaplike werkers vir hul liefde, omgee en harde werk. En ons daag jou uit om uit te reik en betrokke te raak om saam met ons hoop te skep in ons gemeenskappe en hul waardes te versterk.

Waarvoor wag jy?