van krisis tot Hoop-06
van krisis tot Hoop-06

Van Krisis tot Hoop

Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand besef al meer dat dit nodig is om 'n krisisberaad aan te bied vir maatskaplike werkers en die organisasies saam met wie hulle ons gemeenskappe elke dag bedien.

Die doel van die beraad is hoofsaaklik om maatskaplike werkers en hulle helpers te ondersteun. In 2024 wil ons gemeenskappe aanmoedig om te fokus op vyf sleutelgebiede waarvan een aktiewe burgerskap is. Daarom het ons spesifiek 18 Julie gekies om die krisisberaad aan te bied, want 18 Julie is Mandela-dag.

Aktiewe burgerskap verwys na burgers se betrokkenheid by hul gemeenskappe en hulle deelname aan aktiwiteite wat die samelewing se algemene welsyn en vooruitgang bevorder. Dit behels nie net die nakoming van basiese burgerlike pligte soos om te stem en belasting te betaal nie, maar ook die aktiewe deelname aan openbare aangeleenthede, gemeenskapsprojekte, en burgerlike betrokkenheid om verandering en verbetering te bevorder. Dit kan aktiwiteite soos vrywillige werk, burgerregte-aktivisme, gemeenskapsontwikkeling, en betrokkenheid by openbare debatte en besluitneming ook insluit. Kortom, aktiewe burgerskap vereis dat burgers nie net passiewe toeskouers van die samelewing is nie, maar eerder aktiewe deelnemers wat strewe na 'n beter samelewing vir almal.

Ons weet ons as Afrikaner- maatskaplike werkers het ook 'n plekkie in die samelewing en die plekkie wat ons volstaan, maak 'n reuseverskil. Afhanklikheid van die staat en befondsing en dienslewering deur die staat mag nie in die pad staan van ons professie en die uitlewing van ons roeping om ander te dien nie. Daarom juis Mandela-dag, want ons Afrikaners hoort ook hier en daar moet vir ons ook 'n ruimte wees om aktief deel te neem aan openbare aangeleenthede, gemeenskapsprojekte, en burgerlike betrokkenheid. Ons moet ook kan help om verandering en verbetering te bevorder in die maatskaplike organisasies waar ons werk.

Elke jaar op 18 Julie word daar gevra dat ons as Suid-Afrikaners 'n bietjie van ons tyd moet gee om 'n positiewe bydrae tot iemand anders se lewe te maak. Om presies te wees: Daar word 67 minute gevra. Daar is baie meer as 67 redes waarom ons 'n maatskaplike krisisberaad wil hou en ons gaan daardie redes  tydens die geleentheid bespreek.

Ons moenie bang wees omdat ons nog nie al die oplossings het nie. Die tyd is nou reg vir ons om bymekaar te kom en gesprekke te voer om die krisisse in ons samelewing te identifiseer en saam oplossings te bedink en bewerkstellig. Ons moet saam hoop skep en die edele professie van die maatskaplike werker red, bou en bevorder. As ons nie weet wat die probleme is nie, sal ons dit nie kan aanspreek nie. Maatskaplike werkers weet dit alte goed. Die maatskaplike werker se hart is waar die saak lê; dit is daar diep binne waar die roeping rus, en dit moet opgepas word.

Ons kan onafhanklik van die staat werk. Daar is bewyse dat dit gedoen kan word – dat ons self binne 'n spesifieke raamwerk kan te werk gaan en dan 'n aspek byvoeg wat ons die mandaat gee om ons werk te doen, om te doen waarvoor ons en julle geroep is en waarvoor julle as maatskaplike werkers studeer het.

Die beraad word opgedeel in twee dele:

Waar is ons?

Waar gaan ons?

Die gesprekke word gefasiliteer en geen maatskaplike werker sal blootgestel word nie.

Ons nooi graag alle maatskaplike werkers en NWO's (NPOs) om die geleentheid by te woon. Dink solank watter uitdaging jy graag na die tafel sal wil bring en bespreek jou plek gratis!

Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplikewerkdienste-afdeling

Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplikewerkdienste-afdeling bestaan uit 'n span maatskaplike werkers en hulp- maatskaplike werkers wat in die onderskeie streke gestasioneer is. Hierdie span word beskou as agente van verandering wat hulle Godgegewe talente en gawes gebruik om gemeenskappe met doelgerigte maatskaplike ontwikkeling te ontgin. In samewerking met Helpende Hand se streeksorganiseerders en vrywilligertakke mobiliseer die Maatskaplikewerkdienste-afdeling hulpbronne in gemeenskappe. Hulle dienslewering fokus op die volgende kwesbare groepe:

Kinders

Gesinne

Persone met gestremdhede

Ouer persone

Die Maatskaplikewerkdienste-afdeling lewer die volgende kerndienste:

Doelgerigte maatskaplike oriëntering, opleiding en ondersteuning aan Helpende Hand se vrywilligertakke
Professionele hantering van maatskaplike aangeleenthede in samewerking met geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies
Evaluering van hulpversoeke deur middel van 'n omvattende assesseringsproses en aanbevelings wat volhoubare oplossings bied
Uitbouing en versterking van netwerkverhoudings in die onderskeie gemeenskappe deur gemeenskapsforums met die volgende rolspelers te stig
    • Skole
    • Kerke
    • Kinderbeskermingsorganisasies
    • Niewinsgerigte organisasies wat dienste in 'n bepaalde gemeenskap lewer
Die opstel en uitrol van maatskaplike ontwikkelingsprogramme en -projekte in gemeenskappe
Die opstel van hulpgidse om gemeenskappe op hoogte te bring van maatskaplike aangeleenthede
Die publikasie van verrykende en opbouende leesstof op sosiale en ander mediaplatforms
Navorsing ten einde die ware behoeftes van gesinne, gemeenskappe, residensiële instansies vir seniors, persone met gestremdhede en kinders te bepaal deur middel van gemeenskapsontledingsvraelyste. Die navorsingsresultate verseker dat alle projekte en programme wat deur Solidariteit Helpende Hand uitgerol word, volhoubaar is en nie afhanklikheid skep nie
Verwysing na terapeutiese dienste wat deur Ons Sentrum gelewer word
Koördinering en implementering van die Bemagtig 'n Kind-projek

Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk

Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk erken dat maatskaplike werkers passievol oor hulle beroep is en dat hulle 'n verskil in mense se lewens wil maak. Maatskaplike werkers kry min erkenning en waardering vir hul werk maar hulle beleef baie emosionele trauma. Dit is egter 'n roeping en die vlam van jou roeping kan nie geblus word nie. Hierdie beroepsnetwerk bied 'n veilige hawe vir maatskaplike werkers waar hulle by ander wat in dieselfde beroep is, kan leer en met hulle oor beroepsverwante kwessies gesels. Dit bied aan lede 'n netwerk waardeur hulle met mekaar kan skakel en die beste praktyke deel.

Registreer hier

"*" indicates required fields

Naam en van*
Hoe sal jy die funksie wil bywoon?