Die hartseer wens van ‘n jong dogtertjie

Deur Louise Zitzke: Maatskaplike werker vir Mpumalanga en KZN-Noord

In ‘n stil dorp waar geheime en die sagte wind die strate vul, het ‘n dogtertjie oor my pad gekom. Haar oë het ‘n storie van verlies, pyn, en verwaarlosing vertel – ‘n verhaal wat fluisteringe van mishandeling en onsigbare littekens in die wind dra.

Ek onthou die dag toe ‘n angstige onderwyser my kontak oor die beweerde mishandeling van ‘n dogtertjie. Die gerugte van moontlike mishandeling het lankal in die lug gehang, maar die gemeenskap het die gesin probeer bystaan. Elkeen van ons het al vir ‘n leuen geval waaroor ons spyt is, en ongelukkig het sommige gemeenskapslede die beste van die gesin geglo. Die skool het aandag geskenk aan die merke op haar liggaam, maar gesprekke met die ouers het net tot ‘n korttermynverbetering gelei.

As ‘n kind ken ‘n mens elke speelplek op jou erf, maar vir die dogtertjie was dit nie ‘n speelplek nie – eerder ‘n herinnering aan wat gebeur as jy “stout” is. ‘n Gereedskapskamer waar sy saam met haar pa kon werk, het vir haar ‘n plek van straf geword. Om saam met haar gesin te eet, was nie ‘n gegewe nie, want sy kon slegs uit haar kamer kom om haar kos te gaan haal en as sy skool toe gaan.

Die dag toe sy na ‘n pleegsorghuis geneem is en my met tranerige oë aankyk, is haar woorde diep en hartverskeurend: “Belowe my ek hoef nie weer terug te gaan nie, Tannie. Hulle is nie lief vir my nie.” Hierdie tragiese realiteit het my laat besef dat aanmeldings nie net ‘n prosedure is nie maar ‘n dringende roepstem om geregtigheid en beskerming.

As maatskaplike werker is ons nie net bemiddelaars in die proses van kinderverwydering nie; ons is ‘n baken van hoop en ondersteuning vir gesinne voordat dit by daardie krisispunt kom. Die werk van ‘n maatskaplike werker is nie net om kinders te red nie, maar om gesinne te help voordat hulle die punt van onherroeplike skeiding bereik.

Die dogtertjie se vlees mag dalk ver van die omstandighede verwyder wees, maar haar gees dra nog die las van die verlede. Die psigiese littekens, die emosionele trauma en die pad van herstel voor haar is ‘n bewys van die noodsaaklikheid om beweerde mishandeling vroegtydig aan te meld. As ‘n gemeenskap moet ons saamstaan, nie net om nasorg te bied nie, maar om aktief bewus te wees van die tekens en simptome van moontlike mishandeling. Kindermishandeling is ‘n skaduwee wat nie net oor enkele lewens hang nie, maar oor die hele gemeenskap. Ons maatskaplike werkers, tesame met skole en gemeenskappe, moet saamwerk om nie net te reageer nie maar te voorkom. Mag hierdie hartseer storie ‘n herinnering wees dat elke kind ‘n stem het en dat dit ons plig is om daarna te luister, sodat ons kinders kan help om liefde te ervaar.