Die kerk, van praktyk tot struktuur

Elke dag word ek weer opnuut herinner wat die kerk nou eintlik is.

As kind was die kerk vir my ʼn plekkie waar my ma gelukkig was, waar ek Sondagskool gehad het, waar ek en my sussie Jesus leer ken het en waar my pa sy das ʼn bietjie los gemaak het, met trane wat vlak in sy oë lê terwyl ons die oorwinningslied sing.

As student was my kerk op die PUK vir my ʼn rusplekkie, iewers waar ek so ʼn bietjie kon wegkruip, weg van studies en stres. Soos ek groter geword het, was die kerk altyd daar, maar dit is eers nou wat ek besef wat die kerk eintlik is en regtig vir my en my gesin beteken. Nou, as volwasse vrou, is die kerk vir my ʼn diensstasie – dit is daar waar ek krag kry vir die week, waar my leegwees weer gevul word, waar ek met my hande in die lug kan sing en lofprys vir die Here. Die kerk word nou ʼn plek waar ek kan woeker en werk vir Jesus.

Die rots

Ek sit en kyk The Chosen,  ʼn TV-reeks wat ek nogal baie geniet. Hier sien ek die alombekende deel van Jesus wat verklaar dat Petrus die rots is. Die eerste siening is dat Jesus verklaar dat Petrus die “rots” sou wees waarop Hy Sy kerk sou bou. “Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek My kerk bou.”

Aangesien Petrus se naam “rots” beteken en Jesus Sy kerk op ʼn rots gaan bou, lyk dit dat Christus die twee saam verbind. God het Petrus grootliks gebruik in die oprigting van die kerk. Dit was Petrus wat eerste die evangelie verkondig het op Pinksterdag (Handelinge 2:14-47). Petrus was ook teenwoordig toe die Samaritane vir die eerste keer die Heilige Gees ontvang het (Handelinge 8:14-17) en hy was die eerste wat die evangelie na die heidene geneem het (Handelinge 10:1-48). In ʼn sekere sin was Petrus die “rotsfondament” van die kerk.

Soms wonder ek hoe Simon gevoel het, hoe dankbaar en tog ook bang hy moes wees toe Jesus hom Petrus, die rots noem. Dit is so groot verantwoordelikheid maar tog ook so groot eer.

Die kerk

Die woord “kerk” kom van die Griekse woord ekklesia (εκκλησια) wat gedefinieer word as “ʼn bymekaar kom” of “die wat geroep is”. Die kerk is die liggaam van Christus en Hy is die hoof. Efesiërs 1:22-23 sê: “God het alle dinge onder Sy beheer gestel en Hom ook as Hoof van alles aan die kerk gegee. Die kerk is Sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in elke opsig met sy teenwoordigheid vul”.

Soos wat ek die kerk leer ken en die volle eenheid daarvan, woon ek ook graag ʼn funksie by soos die Kerke-kongres van Solidariteit Helpende Hand. Ek sit hier tussen 100 ander mense wat graag ook wil weet hoe gemeenskapsontwikkeling en die kerk saam moet vleg, van praktyk tot struktuur.

Kerke-kongres

Hierdie is die vierde jaar wat ek hierdie kongres bywoon en dit bly altyd ʼn hoogtepunt op my kalender. Ons gesels saam oor hoe roeping lyk en ook hoe barmhartigheidsdiens in die praktyk lyk. Saam dink ons en maak planne oor strukture in tehuise vir bejaardes persone met gestremdhede en kinderhuise. Ons kyk ook na die rol van maatskaplike werkers in dié strukture en hoe ons en hulle behoeftes kan identifiseer. So tussen deur die gesprekke besin ons ook oor leierskap en gemeenskappe en die belangrike taak wat die kerk het om voor te loop.

Wat hierdie dag nog meer spesiaal maak, is dat ons sit in die gebou van die opleidingsinstituut van Solidariteit Helpende Hand. Tussen hierdie mure word daar daagliks tuisversorgers opgelei om ʼn verskil te gaan maak. Geluk gee my hart so ʼn warm drukkie as ek dink dat ons al meer as 112 studente hier opgelei.

Ek luister verder na die sprekers en besef weer opnuut dat hierdie Helpende Kerke-kongres ʼn platform skep waar vrywilligers, ondersteuners, kerke, gemeentes, diensgroepe, organisasies en ander gelowiges kan saam dink en beplan oor hoe ons ons gemeenskappe kan sterk hou en kragtig bou sodat hulle volhoubaar kan ontwikkel. Dit is tog so diep gewortel in ons roeping.

Kerke in gemeenskap

Solidariteit Helpende Hand fokus op gemeenskapsontwikkeling. Daarom glo ons in vennootskappe, netwerke, skakeling en uitreik na mekaar, veral ook na kerke in die verskillende dorpe en gemeenskappe.

Sonder samewerking met die kerk kan Helpende Hand nie ons doelwitte bereik nie. Die kerk is immers die bruid van Jesus Christus, daarom wil en kan en moet en sal ons altyd met die kerk saamwerk om ons Here Jesus Christus te dien, sy koninkryk op te bou en ons roeping uit te leef.

Natuurlik erken en bely ons die rol en wese van die kerk in die wêreld waarin God sy kerk as sy liggaam geplaas het. Die een kan nie sê hy het die ander nie nodig nie. Daarom het Helpende Hand reeds ʼn paar jaar gelede begin met die Helpende Kerke-projek. Natuurlik skakel ons vrywilligers op tak- en streeksvlak met kerke en gemeentes. Plaaslike skakelwerk het al gelei tot talle netwerk-ontbyte en gesamentlike aksies, waar Helpende Hand en die kerk mekaar gehelp het. Maar dit is ook nodig om die verbondenheid aan die kerk nasionaal te erken en uit te leef.

Ek is dankbaar dat ek kan deel wees van Solidariteit Helpende Hand, ek is dankbaar vir kongresse soos hierdie en ek bly dankbaar vir die kerk.

Geskryf deur

René Roux Bestuurshoof: Media