Die krag van opleiding

Deur Rene Roux

Bestuurshoof: Media Solidariteit Helpende Hand

In die tyd en wêreld waarin ons leef, is die geleentheid om te studeer en jou volle potensiaal te bereik, ’n kragtige voorreg. Ons droom by Helpende Hand Studietrust is eenvoudig en tog diep gesaai met betekenis: Ons wil elkeen wat wil studeer die geleentheid gee om dit te doen. Ons strewe is om verdienstelike studente met studiehulp te ondersteun, sodat hulle hul volle potensiaal kan verwesenlik.

Vir ons is dit nie net belangrik om jongmense vir hul beroepe op te lei nie, maar om hulle ook met kennis toe te rus wat hulle sal help om hul roeping te vervul. Ons droom nie net dat hulle ‘n werk kry nie, maar eerder ‘n suksesvolle beroep kan hê waarin hulle hul gawes en talente volledig kan gebruik. Tersiêre opleiding verbreek dadelik die kringloop van armoede en gee die volgende geslag ʼn beter wegspringplek.

Studente wat deur die Studietrust bygestaan word, help weer ʼn volgende student om te gaan studeer deur die lening wat rentevry terugbetaal word. Hierdie volhoubare model skep hoop, dit help waar hulp nóú nodig is en dit maak weer die pad gelyk vir die volgende student.

Die hart van ons Studietrust word weerspieël in die simboliek van “Sewe generasies van hoop gegrond in studie”. Hierdie simboliek herinner ons daaraan dat ons drome en hoop vir die toekoms gegrond is in die krag van studie en onderwys.

Die taak wat ons dus as kinders van God by Solidariteit Helpende Hand se studietrust op onsself geneem het, is om Afrikaanse Christenkinders die kans te gee om te leer. Buiten die ervaring van studentwees en die voorreg van tersiêre onderrig, leer ons hulle ook oor die verantwoordelikheid van teruggee aan jou gemeenskap om sodoende ʼn beter toekoms vir die volgende geslag te skep.

Om die geleentheid vir verdere studies moontlik te maak, is diep in ons roeping verweef. Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het (1 Kor. 7:17). “Roeping” is die een woord wat ek nog nooit so baie in my lewe gehoor het soos die afgelope tien jaar in diens van die Solidariteit Beweging nie. Dit vorm deel van die vyf waardes wat Helpende Hand geïdentifiseer het.

Net soos Johannes die Doper, weet ons ook waarmee ons onsself moet besig hou en wat ons roeping is, en ons vertrou op ons hemelse Vader om vir ons die pad te wys. Met ’n leergordel om sy heupe en in kameelhaar geklee, het Johannes ten volle verstaan wat sy roeping was. Reeds voor sy geboorte kondig die engel aan dat hy die weg vir die Verlosser sal voorberei. Hy was die een wat die pad vir die Here moes gereedmaak en hy het dit geweet. By Solidariteit Helpende Hand Studietrust weet ons dat toewyding aan ‘n mens se beroep, meer as net ‘n werk is. Dit is ’n roeping!

Ons Studietrust, ‘n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand, is ‘n platform wat in 2009 gestig is om behoeftige Afrikaanse studente te help deur middel van rentevrye studielenings. Hierdie model bied ‘n volhoubare benadering tot onderwys, waar elke student wat ons ondersteun die geleentheid kry om met ‘n rentevrye studielening te studeer. Ná voltooiing van hul studies, word hierdie lenings terugbetaal om die volgende generasies van studente te ondersteun.

“Sewe generasies van hoop gegrond in studie” is nie net ‘n slagspreuk nie, dit is ons lewenswyse. Ons strewe is volhoubaarheid en die opbou van verhoudings met al ons rolspelers – van donateurs tot studente en gemeenskappe – om ‘n impak te maak wat deur die geslagte sal voortleef.

Ons moet onthou dat ons eintlike roeping is om God se kinders te wees. Wanneer dit op ons aardse lewe toegepas word en ons onsself daarmee besig hou, trek ons ook ʼn leerbelt en kameelhaar aan om daardie roeping te volvoer.

Mag ons almal saamwerk om die drome van ons jongmense te ondersteun waardeur hulle ‘n stewige fondasie kan hê vir ‘n toekoms vol moontlikhede en hoop, ʼn toekoms waar hulle ook hul roeping kan uitleef.