Gee jy reg of verloor jy jou geloof in die mensdom?

Gee jy reg of verloor jy jou geloof in die mensdom?

As maatskaplike werker sien ek gereeld mense wat swaarkry en hoe die nood al groter raak.

In die stede staan daar op elke hoek iemand wat bedel vir kos. Die man se klere is vuil, sy hare verskroei deur die son en sy oë lyk leeg. Sy gesigsuitdrukking verander skaars as hy die R5 van ‘n barmhartige samaritaan in sy sak steek. Ek sit en wag vir die verkeerslig om groen te word en wonder watse draaie hierdie man se lewe met hom geloop het dat hy vandag hier in die bloedige son voor my moet staan. Later die middag op pad huis toe doen ek gou my inkopies vir die week. Daar sien ek weer dieselfde man onder die boom saam met ‘n paar vriende sit, elkeen met ‘n Dragon-energiedrankie en sigaret in die hand, en ek wonder of die R5 darem vir kos gebruik is.

Die aand lê ek my sosialemediaplasings en lees. Daar sien ek vir die soveelste keer ‘n tannie wat haar kragmeterboksie afneem. Vandag is hy op 0,2 eenhede; haar krag is amper op. Sy vertel van ‘n siek hond wat moes veearts toe gaan; ek is seker die vorige keer was dit haar kat? Daar is geen foto op haar blad nie en ek wonder weereens hoe het die tannie se lewe haar tot hier gebring, en sommer of dit werklik ‘n tannie is?

‘n Paar weke later lees ek van iemand wat hulp beloof is deur ‘n barmhartige samaritaan en in Checkers gelos is met ‘n trollie vol inkopies wat hulle nie kan bekostig nie. Die lesers is geskok. Hoe ongevoelig kan jy wees om ‘n weerlose persoon so in die steek te laat? ‘n Klomp lesers bied aan om vir haar inkopies te betaal; ander wil die samaritane konfronteer. My oog vang kommentaar aan die onderkant waar iemand vertel dat hierdie plasing die nuutste verneukspul is om geld te kry. My gemoed sak in my skoene. Is dit dan deesdae so maklik om mense uit te buit? Jy hoef nie eers meer iemand in die oë te kyk nie; jy doen dit sommer in die gemak van jou eie sitkamer.

Voordat jy heeltemal moed verloor, wil ek jou verseker dat daar ‘n oplossing is. As jy eerder ‘n donasie aan ‘n instansie te gee, sal jou goedheid nie so maklik misbruik word nie. Ek moedig jou aan om twee keer te dink en reg te gee aan organisasies wat geregistreer is en wat monitor hoe fondse aangewend word. Solidariteit Helpende Hand is ‘n geregistreerde niewinsgewende organisasie wat trots is op die positiewe bydrae wat ons in die gemeenskap lewer. Met projekte soos die Kosblikkie-projek verseker ons dat 8 000 kleuters daagliks ‘n gesonde bord kos kry. Met Solidariteit Helpende Hand se Studietrust kon ons die afgelope 14 jaar al meer as 12 000 studielenings ter waarde van altesaam R272 miljoen aan 6 388 behoeftige studente toeken. Met maatskaplike intervensies kon ons al verskeie projekte implementeer wat kwesbare groepe bemagtig. Geen van hierdie inisiatiewe sou moontlik gewees het sonder die bydrae van ‘n barmhartige samaritaan nie, daarom nooi ek jou uit om meer te lees oor Solidariteit Helpende Hand en ook meer betrokke te raak. Besoek helpendehand.co.za vir meer inligting oor hoe jou betrokkenheid ‘n verskil kan maak.